Central SA
Kimberley-ma speel sonder pyn saam met dogter ná suksesvolle breinstentprosedure─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:58 Thu, 30 Jul 2026
Om sonder pyn saam met haar dogter op die bank te sit en kaarte te speel was eens iets waarvan sy net kon droom.
Vandag is dit vir Mache van Vreden (33) ’n werklikheid nadat ’n suksesvolle breinstentprosedure die druk op haar brein verlig het. Sy sê die prosedure laat haar soos “ ’n nuwe mens” voel.
Sy voer al jare lank ’n stryd teen idiopatiese intrakraniale hipertensie (IIH), ’n seldsame neurologiese toestand wat verhoogde druk rondom die brein veroorsaak. Ná jare van pyn en talle mediese prosedures het die operasie haar die kans gegee om haar lewe terug te kry.
“Ek het die verskil onmiddellik ná die prosedure gevoel. Dit is amper onmoontlik om in woorde te beskryf, maar dit was ’n ongelooflike gevoel. Ek voel werklik soos ’n nuwe mens. Ek het nooit besef ’n mens se kop is veronderstel om so lig en ‘oop’ te voel nie.
“Binne oomblikke ná die operasie het ’n gevoel van rustigheid oor my gekom. Ek het besef my lyding is uiteindelik verby.”
Die prosedure het presies verloop soos die neurochirurg dit beplan het, en sy was sowat drie ure in die teater. Die verandering in haar simptome was dramaties. Die ondraaglike hoofpyne en die konstante drukking op haar brein het feitlik onmiddellik verdwyn.
“Dit is moeilik om te verduidelik hoe vinnig en ingrypend die verskil was, maar dit was asof ’n geweldige las in ’n oomblik van my skouers afgehaal is.”
Geringe ongemak
Haar dokters het ook bevestig dat die prosedure suksesvol was. Die drukverskil oor die vernouing in die aar wat die verhoogde druk veroorsaak het, het van twaalf tot een afgeneem.
Hoewel sy steeds herstel, sê sy die ongemak wat sy tans ervaar, is gering. “Ek het effense stentverwante pyn soos die stent nou deel word van die aar, maar dit is minimaal. Verder is daar net spierpyn en teerheid waar hulle die openinge in my nek en lieste gemaak het om die stent in te sit.”
Haar man, Renier, en hul dogter, Arabella (7), was deur die hele proses aan haar sy. “Renier was tydens albei prosedures in die hospitaal en was die eerste bekende gesig wat ek gesien het toe ek wakker word. Hy en Arabella was elke besoektyd daar en is steeds ongelooflik goed vir my noudat ek terug by die huis is.”
Van Vreden sê sy sien die meeste daarna uit om weer genoeg energie te hê om weer ten volle teenwoordig te wees vir haar gesin. Voor die operasie was haar grootste wens om weer die weergawe van haarself te vind wat nie deur pyn beheer word nie. Vandag glo sy daardie droom is besig om waar te word.
“Ek ontdek my ou self elke dag meer en meer, ’n bietjie op ’n slag.”
Een van haar grootste oorwinnings sedert die operasie was ’n eenvoudige oomblik saam met haar dogter. “Die eerste dag wat ek sonder pyn en moegheid kon deurkom, was vir my ongelooflik. Om op die bank te kon sit en kaarte speel saam met Arabella was baie spesiaal, want in die verlede sou ek eerder moes gaan slaap omdat ek so moeg was.”
‘Ek dra ’n stukkie van hulle almal in my hart’
Die ondersteuning wat sy en haar gesin ontvang het, sal hulle ook nooit vergeet nie. “Dit is onmoontlik om te verduidelik hoe oorweldig ons was deur al die ondersteuning. Ek wil hê elke persoon wat bygedra het, ’n boodskap gestuur het of selfs net gebid het, moet weet ek dra ’n stukkie van hulle almal in my hart soos ek vorentoe beweeg. Dit sou onmoontlik gewees het sonder hulle.”
Hoewel die prosedure suksesvol was, wag daar steeds ’n herstelpad. Sy sal vir die volgende jaar bloedverdunners gebruik om te verseker dat geen bloedklonte rondom die stent vorm nie en moet oor drie maande vir ’n opvolg-CT-skandering gaan om te bevestig dat die stent goed geïntegreer het.
Sy kon reeds haar chroniese medikasie staak en haar dokters verwag dat haar simptome op die lang termyn onder beheer sal wees.

Haar man, Renier, was heeltyd aan haar sy. Foto verskaf
Die hele ervaring het haar egter geleer dat mense baie sterker is as wat hulle besef. “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee. ’n Mens kan soveel meer dra en hanteer as wat jy dink. En niks hou vir ewig aan nie. Al lyk die lig aan die einde van die tonnel hoe flou, sal dit weer helder word.”
Aan ander mense by wie IIH pas gediagnoseer is: “Jy mag bang wees. Dis oorweldigend en vreesaanjaend, maar dit is nie ’n doodsvonnis nie.
“Jy kan, en sal, weer ’n normale lewe lei. Praat wanneer jy seer het, dring aan op die nodige toetse en wees ferm oor wat vir jou werk en wat nie. Daar is soveel behandelingsopsies wat jou kan help om beter te word,” sê Van Vreden.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.


