Central SA
‘Ek het albei my ouers verloor’: Seun verbreek stilswye ná ma se vonnis─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:52 Thu, 30 Jul 2026
Die seun van die Vrystater wat onlangs vir die moord op haar eksman gevonnis is, sê die uitspraak het hom gedwing om die verlies van albei sy ouers opnuut te verwerk.
In ’n eksklusiewe onderhoud met OFM Nuus deel Christopher van den Heever sy kant van ’n tragedie wat sy familie onherroeplik verander het. Sy ma, Linda van den Heever (64), is op 17 Julie in die rondgaande hooggeregshof in Welkom tot 15 jaar tronkstraf gevonnis, waarvan sewe jaar vir vyf jaar opgeskort is.
Sy sal ’n effektiewe agt jaar gevangenisstraf uitdien nadat sy skuldig bevind is aan die moord met voorbedagte rade op haar voormalige man, André van den Heever. Die staat het vir lewenslange tronkstraf gevra.
Christopher sê die grootste slagoffers van die tragedie is nie net die persoon wie se lewe beëindig is nie, maar ook die kinders wat agterbly.
“Ek en my suster het ons pa verloor, en in baie opsigte het ons ook ons ma verloor. Hoewel sy nog leef, is die gesinslewe wat ons eens geken het, weg.”
Ten spyte van alles het hy steeds besluit om sy ma te ondersteun. “Ek het dit nie gedoen omdat dit maklik was of omdat almal daarmee saamgestem het nie. Ek het dit gedoen omdat sy my ma is.”
Sedert die voorval op 14 Desember 2021 in die kinders se grootwordhuis was daar dae van hartseer, vrees en onsekerheid. Hy het egter geleer dat ware krag daarin lê om ná elke terugslag weer op te staan.
“Ek sal altyd my pa se herinnering eer, maar my liefde vir my ma sal onveranderd bly,” sê hy, hoewel hy nie sy ma se optrede probeer regverdig of simpatie vra nie.

Linda van den Heever en haar seun, Christopher, in die hof. Foto: Charne van der Merwe
Hy hoop bloot mense sal onthou dat daar agter elke opspraakwekkende hofsaak ook kinders is wie se lewens onherroeplik verander word. “Ek kies liefde bo haat, deernis bo oordeel, vergifnis bo bitterheid en hoop bo wanhoop.”
Tydens die hofverrigtinge het die staat slagofferimpakverklarings van familielede en goeie vriende voorgelees waarin hulle beskryf het hoe die noodlottige skietery hul lewe steeds beïnvloed.
Christopher se verklaring is ook aan die hof voorgehou. Daarin het hy gesê die verlies van sy pa en die gebeure daarna het geweldige emosionele en fisieke spanning veroorsaak. Hy kry professionele ondersteuning om die trauma te verwerk en sukkel steeds met slaap, konsentrasie en om druk by die werk te hanteer.
Hy het ook vertel van die uitdagings om voortdurend onder die gemeenskap se vergrootglas te leef. Die aanhoudende spanning het sy gesondheid, eetlus en temperament beïnvloed en maak hom ongeduldig en prikkelbaar.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.


