Central SA
Vrystater weer in hof ná beweerde verkragting ná ontmoeting─── CHARNÉ VAN DER MERWE 08:00 Tue, 11 Aug 2026
Die Vrystater wat daarvan beskuldig word dat hy ’n vrou verkrag het ná ’n ontmoeting in ’n plaaslike kroeg, verskyn Dinsdag (11/8) weer in die hof.
Die beskuldigde (43) staan tereg op ’n aanklag van verkragting. Hy is tydens sy eerste verskyning op 6 Julie in die Bloemfonteinse landdroshof op borgtog van R1 000 vrygelaat.
Sy regsverteenwoordiger sê die staat sal tydens die komende hofverskyning terugvoer gee oor die vordering van die ondersoek. “Daar word ook moontlik verwag dat die staat ’n besluit oor die saak sal neem en uitstel sal versoek sodat die dossier tydens die volgende hofverskyning beskikbaar gestel kan word.”
Die 45-jarige en die beskuldigde het glo in ’n kuierplek in die stad ontmoet waar hulle tyd saam deurgebring en telefoonnommers uitgeruil het. Hulle het daarna kontak behou en ooreengekom om mekaar weer op 30 Junie in dieselfde kroeg te ontmoet, lui die klagstaat.
Die vrou beweer hulle het later die aand na die beskuldigde se woning gegaan, waar die beweerde verkragting plaasgevind het. Sy het die volgende dag ’n klagte by die polisie aanhangig gemaak, waarna die beskuldigde op 2 Julie in hegtenis geneem is.
Hy het die naweek in aanhouding deurgebring. Ingevolge Artikel 154(2)(b) van die Strafproseswet mag die identiteit van die klaer, sowel as dié van die beskuldigde, nie bekend gemaak word voordat die beskuldigde gepleit het nie.
Net ’n week later sal ’n 84-jarige, wat skuldig bevind is aan die verkragting en seksuele uitbuiting van ’n kind, asook die dwang van twee ander kinders om die misdryf te aanskou, op 19 Augustus gevonnis word.
Barend Hendrik van der Berg van Petrusburg is op 20 Julie op al die aanklagte skuldig bevind nadat die hof sy weergawe verwerp en die kinders se getuienis as geloofwaardig aanvaar het.
Volgens die staat het die verkragting van die agtjarige meisie oor meer as ’n jaar plaasgevind nadat sy gereeld ná skool by Van der Berg se huis gekuier het. Die verdediging het intussen ’n korrektiewetoesigverslag aangevra weens sy ouderdom, terwyl die staat na verwagting lewenslange gevangenisstraf sal versoek.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.


