On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Upington-ma ervaar ernstige newe-effekte ná chemoterapie

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:26 Wed, 26 Aug 2026

Upington-ma ervaar ernstige newe-effekte ná chemoterapie | News Article
Marinda en Awie in die hospitaal. Foto verskaf

’n Vrou van die Noord-Kaap se stryd teen maagkanker het ’n onverwagte wending geneem nadat sy ná haar tweede chemoterapiesessie ernstig siek geword het.

Marinda Theunissen (42) van Upington moet eers herstel voordat haar derde sessie kan voortgaan, waarna dokters sal bepaal of die gewas genoeg gekrimp het vir ’n operasie. Gevorderde maagkanker is vroeër vanjaar by haar gediagnoseer, nadat sy maande lank erge buikpyn, naarheid en onverklaarbare gewigsverlies ervaar het. 

’n Groot gewas naby die opening na die dunderm het haar spysvertering ernstig belemmer, en sy moes dringend geopereer word. 

Marinda en haar drie kinders. Foto verskaf

Dokters het ’n alternatiewe opening tussen haar maag en dunderm geskep om kos daardeur te laat beweeg, vertel haar pa, Awie Crossberg.

“Haar eerste chemoterapie het uitstekend verloop, maar ná die tweede sessie het haar toestand drasties verswak.” Dié behandeling is in Upington toegedien, nadat besluit is dat sy nie vir elke sessie na Bloemfontein hoef te reis nie.

Volgens Crossberg het Theunissen ná die behandeling só siek geword dat haar voete en enkels geswel het, sy gesukkel het om te loop en haar maag byna ’n week lank aanhoudend gewerk het. “Daar was ook probleme met die manier waarop die chemoterapie toegedien is.”


Die behandeling het net sowat 40 minute geduur, terwyl dit gewoonlik vier uur neem. “Sy het daarna mediese komplikasies ontwikkel, insluitend ’n blaasinfeksie en ’n infeksie wat tot die erge diarree bygedra het,” sê hy.

Sy is na Mediclinic Upington geneem, waar sy verdere behandeling ontvang het. Een van die dokters het onmiddellik met die onkologiespan by Universitas-hospitaal in Bloemfontein kontak gemaak om haar behandeling oor te neem. 

“Ons moes haar Mediclinic toe vat. Anders weet ek nie of my kind dit sou gemaak het nie,” sê Crossberg.

Die derde chemoterapiesessie is voorlopig uitgestel, sodat sy kan aansterk. Crossberg hoop die volgende behandeling sal beter verloop en dat sy daarna die nodige skandering in Bloemfontein kan ondergaan.

“Die uitslae sal ’n belangrike volgende stap bepaal, aangesien dokters wil vasstel of die gewas genoegsaam gekrimp het om ’n operasie moontlik te maak.”

As dit wel die geval is, kan dokters voortgaan met die beplande operasie. 

Ná afloop van die huidige behandelingsplan sal Theunissen nog drie chemoterapiesessies ontvang om enige oorblywende kankerselle aan te spreek. ’n Histerektomie word ook oorweeg.

Die uitdagings plaas ’n groot emosionele en finansiële las op die gesin en hul drie kinders (16, 8 en 6). Haar man, Coenraad, werk ver van die huis in die mynbedryf.

“Die volgende paar weke is baie belangrik. Ons bid, en ons hou duim vas,” sê hy.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 4871427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.