On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Swart dag vir Suid-Afrika ná nege vroue se dood

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:55 Fri, 18 Sep 2026

Swart dag vir Suid-Afrika ná nege vroue se dood | News Article
Minstens 569 vroue is tussen April en Junie vermoor. Foto ter illustrasie, iStock

Swart klere was Vrydag (18/9) dwarsoor Suid-Afrika ’n simbool van protes en steun aan slagoffers, toe mense hul stem dik gemaak het teen geweld teen vroue.

Kommer heers oor toenemende geweld teen vroue. Die liggame van nege vroue is sedert begin Julie op die Oos-Rand gevind, wat gemeenskappe en families geskok het.

Luidens Suid-Afrika se jongste nasionale misdaadsyfers is 569 vroue tussen April en Junie vermoor. Die afgelope week het die ontdekking van vyf van die nege liggame, wat tussen vroeg Augustus en middel September gevind is, die land geskok.

Slegs vier van die slagoffers is tot dusver deur hul naasbestaandes uitgeken. Itumeleng Kekana (32) se liggaam is op 3 Augustus langs die Great Northweg in Pomona gevind, sowat twee weke nadat sy as vermis aangemeld is. Sy is met steekwonde aangetref.

Gracious Nkomo (28) se liggaam is op 10 September langs die R21 in Rhodesfield ontdek. Elizabeth (Tsontso) Moselakgomo (38) is twee dae later naby die Protea Hotel in Rhodesfield gevind. Sy het op 9 September verdwyn nadat sy gaan draf het.

Dineo Evelyn Motapane (38) se liggaam is op 15 September langs ’n pad in KwaThema, Springs, gevind. ’n Negende liggaam is Donderdag (17/9) in Dawn Park, Boksburg, ontdek.

Reeksmoordenaar

Lt.genl. Puleng Dimpane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, het Maandag gesê sommige van die vroue wie se liggame gevind is, is glo seksueel aangerand en/of verkrag. Die polisie het egter nog nie bevestig of die sake met ’n reeksmoordenaar verbind kan word nie. Teen Vrydagmiddag was niemand in verband met die moorde in hegtenis geneem nie.


Intussen het mans Vrydag in swart deur Kempton Park gestap om hul stem teen die moorde op vroue en geslagsgeweld te laat hoor. Geloofsleiers het die optog gelei en mans aangemoedig om verantwoordelikheid te aanvaar en nie stil te bly wanneer geweld teen vroue plaasvind nie.

Siya Kolisi, Springbok-kaptein, het ook sy steun uitgespreek en sy medelye met die families van die slagoffers betuig. Hy sê geweld teen vroue gebeur nie net wanneer dit die land se aandag trek nie, maar dit is ’n probleem wat daagliks voortduur.

Hy moedig mans aan om hul stem te gebruik en op te tree. “Ons as mans moet opstaan en iets sê. Wat gaan jy vir jou dogter of jou suster sê?”

Hy sê ander mense met groot sosialemediaplatforms moet hul invloed gebruik om die gesprek oor oplossings voort te sit. Hoewel hy sê hy het nie al die antwoorde nie, wil hy sy platform beskikbaar stel aan mense wat moontlike oplossings kan bied.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.