Central SA
Vrou se liggaam in oop veld naby Odendaalsrus gevind─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:00 Sun, 27 Sep 2026
Haar liggaam is Vrydag (25/9) omstreeks 03:25 in die veld by Kutlwanong, Odendaalsrus, gevind.
“Nomandithini George (29) se liggaam is deur ’n verbyganger opgemerk en die polisie is in kennis gestel,” sê sers. Palesa Thabana, provinsiale polisiewoordvoerder. “Sy is verskeie kere in haar rug, naby haar linkeroor en in die linkerwang met ’n skerp voorwerp gesteek.”
Sy is op die toneel dood verklaar en eers later as George geïdentifiseer. Die motief vir die moord is nog onbekend en die ondersoek duur voort.
Die polisie vra enigiemand wat kan help met die opsporing van die verdagte(s) om hulle te kontak. Speursers. Florence Kgosing van die Odendaalsrus-speurtak kan by 082 301 2797 gekontak word of bel Stop Misdaad by 08600 10111. Anonieme wenke kan ook vanaf ’n slimfoon deur die MySAPS-app gestuur word. Alle inligting sal as vertroulik beskou word.
Intussen soek die polisie na die ma van ’n pasgebore baba wat Vrydagoggend (25?9) verlate by ’n woning in Georgestraat, Zastron, gevind is.
“Die huiseienaar, Malitaba Jansen, het tussen 06:00 en 06:30 ’n gehuil in haar erf gehoor. Sy het ondersoek ingestel en die seuntjie voor die deur van die buitegebou aangetref. Hy is vermoedelik slegs ’n paar dae oud, was in ’n wit kombers toegedraai en het ’n blou mus aangehad."
In ’n brief wat op die toneel gevind is, sê die ma sy kan nie na die kind omsien nie. Nooddienste is ontbied en die baba is na die Embekweni-hospitaal geneem. Die baba se toestand is stabiel.
Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting om die Zastron-stasiebevelvoerder by 082 467 6284 te bel.
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.


