Central SA
Ouers bekommerd oor Noordwes-baba se kopvorm─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:36 Tue, 29 Sep 2026
Vir ’n Klerksdorpse gesin het die vorm van hul vier maande oue dogtertjie se koppie ’n bron van kommer oor haar gesondheid en toekoms geword.
Monica de Sousa Alves en Mike van Schoor het gou waargeneem hul dogtertjie, Emily Skye, se koppie lyk aan die agterkant platter en wyer as normaal. Hulle het aanvanklik gehoop dit sou self beter raak, maar namate sy gegroei het, het hulle besef hulle moet professionele hulp kry.
“Die pediater het verduidelik sy het bragikefalie het, wat beteken die agterkant van haar kop is plat en haar koppie kom wyer voor,” sê Monica.
“Daar is aan ons verduidelik vroeë behandeling is belangrik, omdat ’n baba se skedel nog sag is en makliker gevorm kan word. Die behandeling werk die beste wanneer babas nog baie jonk is, omdat hul skedels nog besig is om te groei en te vorm. Daarom gee vroeë behandeling die beste kans op goeie resultate.”
Emily Skye se ouers wil net die beste vir haar hê. Foto verskaf
Ten spyte van die bekommernisse oor haar kopvorm ontwikkel Emily volgens haar ma normaal vir haar ouderdom en bereik sy haar mylpale. Monica beskryf haar as ’n gelukkige, wakker en liefdevolle babatjie.
“Emily is ons grootste seën en ons klein wonderwerk. Sy het die mooiste glimlag en helderblou ogies wat elke dag ons harte vul met liefde.”
Volgens die pediater sal Emily waarskynlik ’n kraniale hermodelleringshelmpie benodig. ’n Spesialis wat reeds foto’s van haar koppie gesien het, het bevestig die kans is groot dat sy vir die behandeling sal kwalifiseer.
Die finale besluit sal egter eers tydens haar spesialisassessering geneem word. Emily se afspraak is Vrydag (9/10) in Johannesburg. Tydens die assessering sal haar kopvorm gemeet en ’n 3D skandering gedoen word om die vorm van haar skedel en die erns van die bragikefalie te bepaal.

Emily Skye was nie beplan nie, maar is haar ouers se hele lewe. Foto verskaf
Die spesialis sal daarna die beskikbare behandelingsopsies met haar ouers bespreek, asook hoe die helmpie werk en hoe lank sy dit sal moet dra. Die pediater sal ook aanstaande maand ’n breinskandering doen om vas te stel of daar enige drukking op haar brein is wat met die vorm van haar skedel verband hou.
Vir Monica is die situasie egter baie emosioneel. “Emily was onbeplan, maar is die grootste seëning in my lewe. Sy het my lewe gered en weer betekenis gegee,” sê sy. “Jy wil net die beste vir jou kind hê, en dit is hartseer om te weet dat iets wat haar kan help, buite jou finansiële bereik is.”
Sy moes ook al van verskeie mense hoor Emily se kopvorm sal moontlik vanself kan verbeter, maar sy wil nie die kans waag om behandeling uit te stel as dit wel nodig is nie. “Ek weet sy is te klein om te verstaan. Daar is mense wat vir my sê dit sal self regkom, maar ek as haar mamma wil nie daardie kans waag nie.”

Emily Skye het bragikefalie. Foto verskaf
Die gesin se grootste kommerbekommernis is dat die geleentheid vir vroeë behandeling verlore kan gaan. “Ons is bang dat daar wel drukking op haar brein kan wees en dat dit later dalk haar ontwikkeling kan beïnvloed,” sê Monica.
Die gesin sal verskeie kere na Johannesburg moet reis vir Emily se behandeling, skanderings en opvolgafsprake. Die koste van die behandeling word op tussen R45 000 en R60 000 geraam. Daarby kom reis-, moontlike verblyf- en ander mediese uitgawes.
Die gesin se mediese fonds dek nie die behandeling nie, aangesien dit as ’n kosmetiese prosedure geklassifiseer word. Hulle kon ook nie daarin slaag om hulp by staatshospitale te bekom nie. Mike is tans die enigste broodwinner, terwyl Monica voltyds na Emily omsien.

Emily Skye het altyd ’n glimlag op haar gesig. Foto verskaf
Die gesin leef van maand tot maand en kan nie die volle koste van die behandeling self dra nie. Hulle het tot dusver R7 509 se ondersteuning ontvang en hoop om R68 000 in te samel vir die behandeling, assessering en reiskoste.
Vir Monica gaan die oproep om hulp egter oor veel meer as geld. “Ons wil hê mense moet verstaan dat geen ouer ooit vir hulp vra as dit nie werklik nodig is nie.
“Ons wil ook hê mense moet bewus raak van bragikefalie, asook die ander toestande wat babas se kopvorm kan beïnvloed. Dit gee ons hoop en ons besef ons stap nie die pad alleen nie.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 4871427.
