On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Man dood aangetref wat verbind word met Tembisa-moord

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:44 Tue, 29 Sep 2026

Man dood aangetref wat verbind word met Tembisa-moord | News Article
Boitumelo Gift Mashita. Foto: Facebook

’n Man wat deur die polisie geïdentifiseer is as ’n persoon van belang in die moord op ’n vrou op die Oos-Rand, is dood aangetref in sy voertuig.

Boitumelo Gift Mashita (23) is Maandag (28/9) omstreeks 05:45 in Mapungubwestraat, Temong, doodgeskiet terwyl sy glo op pad werk toe was. Haar vervreemde man, Xolani Mandlazi, is kort ná haar dood deur ondersoekbeamptes as ’n persoon van belang geïdentifiseer, sê brig. Brenda Muridili, provinsiale polisiewoordvoerder.

Die Thembisa-opsporingseenheid het na hom begin soek, maar is later deur die Midrand-polisiekantoor ingelig dat sy voertuig binne dié polisiëringsgebied gevind is, met sy liggaam daarin. “Daar word vermoed dat hy moontlik ’n onbekende middel ingeneem het, aangesien daar in hierdie stadium geen aanduiding van enige misdaad is nie,” sê Muridili.

’n Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die presiese oorsaak van sy dood vas te stel. Die Midrand-polisie sal intussen ’n geregtelike doodsondersoek registreer. 

Mashita is tydens ’n vermoedelike rooftog geskiet. Van haar besittings is in die voorval geneem, en die polisie ondersoek ’n saak van moord en roof.

Die polisie het intussen beklemtoon dat Mashita se moord nie verbind word met die ander vrouemoorde wat die afgelope maande op verskillende plekke op die Oos-Rand plaasgevind het nie. Die verwikkeling kom te midde van verskeie ander moordsake in die Ekurhuleni-gebied wat die aandag van die polisie getrek het.

Ntombifuthi Nxumalo se liggaam is Saterdag in die Mooifontein-begraafplaas in Tembisa gevind. ’n 36-jarige man van Bolobedu buite Tzaneen is in verband met haar moord in hegtenis geneem en sou Dinsdag in die landdroshof in Tembisa verskyn.

Jabulile Ntimba se liggaam is op 17 September in ’n veld in Dawn Park gevind. Sy het onder meer ’n snywond aan haar keel gehad. Twee vroue, Fortunate Masilela (31) en Tsakane Msithani (38), is in verband met dié moord in hegtenis geneem en bly in aanhouding.

Busisiwe Mahlangu (37), wie se liggaam op 15 Julie langs die R21 in Rhodesfield, Kempton Park, gevind is, se kêrel is ook in verband met haar dood in hegtenis geneem. Luidens Suid-Afrika se jongste nasionale misdaadsyfers is 569 vroue tussen April en Junie vermoor. 

OFM Nuus cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsApp die OFM Nuus-lyn 066487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.