On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-man kry lewenslank vir tweejarige se moord

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:45 Fri, 02 Oct 2026

Noordwes-man kry lewenslank vir tweejarige se moord  | News Article
Carel Fouché. Foto verskaf

Die NVG verwelkom die lewenslange vonnis wat ’n Noordwes-man opgelê is nadat hy skuldig bevind is aan die moord op ’n peuter.

Carel Fouché (33) het Woensdag (30/9) in die Stilfontein-streekhof verskyn, waar hy tot lewenslange tronkstraf gevonnis is. Hy het skuld beken aan die moord op Kelvin Niewenhuizen (2), sê Lindiwe Mabasa, NVG-woordvoerder.

In ’n pleitverduideliking wat in Augustus aan die hof voorgelê is, het Fouché erken hy was op die betrokke aand onder die invloed van dwelms. Hy het gesê hy het Kelvin verskeie kere met sy vuiste en oop hande geslaan nadat die kind aanhou huil het.

Kelvin, wat saam met sy ouma, Marietjie Niewenhuizen (49), en Fouché in ’n wooneenheid op ’n perseel in die dorp gewoon het, het sowat 20 beserings oor sy lyf gehad. Sy skedel was op twee plekke gebreek en hy het bloeding op die brein opgedoen. Hy is dood as gevolg van die harde houe teen sy kop.

Fouché, wat na bewering ’n geskiedenis van dwelmmisbruik het, het volgens getuienis die aand voor die voorval tik gerook saam met Niewenhuizen, met wie hy in ’n verhouding was.

“Die peuter het geslaap en gedurende die nag begin huil. Fouché het kwaad geword, die kind wakker gemaak en hom aangerand. Hy het die volgende oggend na bewering bure om hulp gevra en voorgegee dat hy nie geweet het wat met die kind gebeur het nie. Nooddienste is ontbied en het die kind op die toneel dood verklaar,” sê Mabasa.

Fouché is in hegtenis geneem en was sedertdien in aanhouding. Die staat het tydens die verhoor getuienis aangebied oor die erns van die aanranding en die ongeveer 20 beserings wat die kind opgedoen het.

’n Dokter het getuig die kind is beserings deur stomp geweld toegedien. Dit het met herhaaldelike houe met ’n voorwerp ooreengestem. Sommige van die beserings kon toegeskryf word aan ’n volwassene wat hom met oop hande of vuiste geslaan het. 

Carel Fouché in die hof. Foto verskaf

Die hof het ook ’n proefbeampteverslag ontvang waarvolgens Fouché nie rehabiliteerbaaris nie en ’n gevaar vir homself en die gemeenskap inhou. Ter versagting van vonnis het die verdediging aangevoer Fouché is deur sy grootouers onder moeilike omstandighede grootgemaak nadat hy na bewering deur sy biologiese ouers verlaat is.

Hy het ook in gr. 8 skool verlaat en later weens groepsdruk by bendelede betrokke geraak en met die staat saamgewerk deur skuldig te pleit. Die staat het egter daarop gewys dat Fouché nie ’n eerste oortreder was nie en vorige veroordelings gehad het wat tot 2011 terugdateer, onder meer vir gewelddadige misdrywe.

Hy is voorheen tot vier jaar tronkstraf vir huisbraak gevonnis en sou sy parooltydperk eers in 2027 voltooi. Die staat het aangevoer dit het hom nie daarvan weerhou om dié misdryf te pleeg nie. Die staat het die erns en wreedheid van die moord beklemtoon en daarop gewys Fouché het ’n weerlose kind doodgemaak wat aan sy sorg en beskerming toevertrou was.

Adv. Ntebaleng Mabale, die staatsaanklaer, het aangevoer die uiters ernstige aanranding op die seuntjie, wat tot sy dood gelei het, regverdig lewenslange tronkstraf. “Hy is onrehabiliteerbaar en ’n gevaar vir die samelewing. Hy sal weer moor.”

Die hof het met die staat se argumente saamgestem en Fouché ingevolge artikel 51(1) van die Wysigingswet op Strafreg, wet 105 van 1997, tot lewenslange tronkstraf gevonnis weens moord. Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFMNuus-lyn by 066 4871427. 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.