On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Pa praat ná dogter (13) in hospitaal beland weens boeliegedrag

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:11 Mon, 05 Oct 2026

Pa praat ná dogter (13) in hospitaal beland weens boeliegedrag | News Article
Janke-lee Engelbrecht. Foto verskaf

’n Pa hardloop steeds teen 500 km/h tussen woede en bitter hartseer nadat sy tienerdogter weens die emosionele las van beweerde boeliegedrag op skool haar lewe probeer neem het.

Janke-lee Engelbrecht (13) veg al byna drie weke in die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg om te herstel. Sy het op 17 September ná skool by hul huis op Brakpan ’n groot hoeveelheid medikasie ingeneem.

Haar pa, Henricus, probeer steeds sin maak van wat gebeur het, terwyl sy grootste doel nou is om te verseker dat sy dogter die regte hulp en ondersteuning ontvang wanneer sy ontslaan word.

“Ek het die nuus by die werk gekry oor wat gebeur het en het huis toe gejaag. Ek kon aanvanklik nog met haar praat voordat haar toestand versleg het en sy mediese behandeling moes ontvang.” Janke-lee en haar boetie het onlangs by hom kom bly. Hul ouers is besig om te skei. Sy was byna twee weke lank onder sedasie en op ’n ventilator.

Janke-lee Engelbrecht saam met haar pa, Henricus, en broer, Hugo. Foto verskaf

Die sedasie is egter nou gestaak en sy begin geleidelik wakker word, hoewel sy steeds baie rusteloos is en probeer beweeg. Henricus sê die familie was wel bewus daarvan dat sy dogter probleme by die skool ervaar het, maar hy glo nie hulle het besef hoe diep dit haar geraak het nie.

“Ek was al self by die skool en sy het dit ook daarna weer aangemeld, maar die skool beweer hulle weet niks. Dis dieselfde holrug geryde storie elke keer.” Die beweerde boeliegedrag het reeds vroeër vanjaar begin. ’n Vorige probleem met ’n seun is aangespreek, maar later het daar weer ’n groep kinders betrokke geraak.

“My dogter is nie iemand wat maklik haar probleme met ander deel nie. Sy het eintlik ’n baie sterk persoonlikheid en sy hou nie van stories aandra nie.”

Jade Ferreira, haar pa se verloofde, Janke-lee, en haar ouma Maria Botha. Foto verskaf.

Ná ’n voorval waartydens ’n ander kind haar glo in die gesig geslaan het, het sy na die skool se kantoor gegaan en die personeel gevra om haar pa te bel. “Toe sê die vrou vir haar: Nee, jy moet nou maar klas toe gaan, ons kan nie jou pa bel vir alles nie.”

Henricus sê hy probeer soveel moontlik van die gebeure op skrif kry sodat daar behoorlik na die bewerings gekyk kan word. Daar is ook ander faktore in sy dogter se lewe wat moontlik tot haar emosionele toestand kon bydra, maar hy wil nie te veel daaroor uitbrei nie.

Hoewel sy voorheen met ’n berader gepraat het en sy mettertyd begin oopmaak het, wil hy nou vir haar en haar boetie (10) die regte hulp en ondersteuning kry. Wanneer hy terugdink aan die tyd voor die voorval, sê Henricus daar was wel veranderinge in haar gedrag wat hy nou anders interpreteer.


“Sy’t uitbarstings gekry, soos aggressie gewys, maar nie fisiek geraak nie. Sy sou ook met tye op haar boetie skree.” Hy sê ouers moet daarom fyn let op veranderinge in hul kinders se gedrag en nie aanvaar dat alles reg is omdat ’n kind nie noodwendig akademies begin sukkel nie.

“Janke het uit die aard van die saak nie op ’n akademiese vlak gesukkel nie. Haar punte bly dieselfde, so dit is definitief ’n emosionele ding.”

Vir Henricus is die vraag oor hoe ’n mens jou kind teen die wêreld beskerm nou ’n werklikheid waarmee hy elke dag moet worstel. “Mens kan nie jou kind in watte toedraai met die wrede wêreld daar buite nie.”

Hy probeer nou op ’n ander manier na sy dogter luister, haar gedrag dophou en seker maak sy kry professionele ondersteuning. “Jy moet ook net luister na jou kind, let op na wat hulle doen, kyk na die punte, want dit gaan ook ’n groot verskil maak.”

Janke-lee Engelbrecht. Foto verskaf

Henricus se boodskap is nie net aan ouers van kinders wat geboelie word nie. Hy pleit by ouers wie se kinders ander kinders afknou. “Jy moet tot by die kern van die saak kom. As jou kind boelie, is daar ’n rede daarvoor.”

Boeliegedrag moet eerste tuis aandag kry. “Daai kind verdien respek. As jy ’n kind nie kan respekteer nie, gaan hulle nie jou of ouer mense respekteer nie. Hulle gaan niemand respekteer as hulle ouer word nie. Kinders leer dikwels meer uit wat hul ouers doen as uit wat hulle vir hulle sê.”

Die afgelope paar weke was besonder swaar vir die gesin. Henricus en Jade Ferreira, sy verloofde, se drie dae oue baba is kort voor Janke-lee se selfdoodpoging oorlede. Die baba is op 30 weke gebore en het gesukkel om asem te haal weens onderontwikkelde longe.

Terselfdertyd moes Henricus en sy gesin ook noodgedwonge verhuis nadat die eienaar van hul vorige woning besluit het om die huis te verkoop.

Janke-lee Engelbrecht word glo sedert die begin van die jaar geboelie. Foto verskaf

Hy sê die gereelde ritte tussen Springs en Johannesburg om by sy dogter te wees, sowel as die ander uitgawes wat met die gesin se omstandighede gepaardgaan plaas hom onder groot finansiële druk.

“Sy was veronderstel om op 13-jarige ouderdom oor skool, vriende, musiek en haar toekoms te droom – nie om ’n pyn te dra wat vir haar te swaar geword het nie,” sê ’n emosionele Henricus.

‘Hou asseblief aan veg’

“Jy is geliefd. Jy is nodig. Jy maak saak. Jy is soveel meer as dit wat met jou gebeur het. Jy hoef nie die pad vorentoe alleen te stap nie. Ek het jou nie lief omdat jy gelukkig is nie. Ek het jou nie lief omdat jy suksesvol is nie. Ek het jou lief omdat jy jy is. Hou asseblief aan veg, my babameisie. Een asem. Een minuut. Een dag op ’n slag.”

Henricus sê hy hoop ander ouers sal uit sy gesin se ervaring leer om hul kinders se gedrag, emosies en woorde ernstig op te neem. “Luister na jou kind.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 4871427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.