On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Verdagte aangekeer ná eiendom van vermoorde vrou op Oos-Rand gevind is

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:58 Mon, 12 Oct 2026

Verdagte aangekeer ná eiendom van vermoorde vrou op Oos-Rand gevind is | News Article
Elizabeth Moselakgomo. Foto verskaf

’n Verdagte is in hegtenis geneem nadat eiendom in sy besit gevind is, wat vermoedelik aan een van die vroue behoort wat onlangs op die Oos-Rand vermoor is.

Die man sal na verwagting Maandag (12/10) in die Kempton Park-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van gesteelde eiendom. “Hy word in dié stadium nie van moord aangekla nie,” sê brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder.

Die eiendom behoort vermoedelik aan Elizabeth “Tsontso” Moselakgomo (38). Sy het op 10 September uit Rhodesfield in Kempton Park vertrek om te gaan draf, maar het nooit na haar dogter (8) teruggekeer nie. Haar familie het later ’n soektog na haar begin nadat haar dogter alarm gemaak het.


Haar moord is deel van ’n reeks sake waarin vroueliggame sedert Julie op die Oos-Rand ontdek is. Die polisie het vroeër bevestig twaalf vroueliggame is teen einde September in die gebied gevind. Die jongste twee liggame is binne enkele ure van mekaar in Tembisa en Springs ontdek.

Een van die sake hou verband met Ntombifuthu Nxumalo, wie se liggaam op 26 September in die Vusimusi-seksie van Tembisa-Suid gevind is. Sy is naak aangetref en het ernstige kopbeserings opgedoen. Die polisie vermoed sy is met ’n klip doodgeslaan.

’n Verdagte is later dieselfde dag in Tzaneen, Limpopo, in hegtenis geneem in verband met haar moord. Intussen is Fortunate Masilela (31) en Tsakane Msithani (38) ook in hegtenis geneem in verband met die moord op Jabulile Ntimba. Haar liggaam is op 17 September in ’n veld in Dawn Park gevind. Sy het onder meer ’n snywond aan haar keel gehad.

Die polisie se multidissiplinêre taakspan ondersoek die moordsake. Dit sluit in speurders, misdaadintelligensie, misdaadtoneelondersoekers en ander gespesialiseerde eenhede.

OFM Nuus sm/dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.