South Africa
Tienjarige se sangtalent kan haar oorsee neem─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:54 Mon, 12 Oct 2026
’n Stok as mikrofoon, ’n pers tutu en ’n dogtertjie wat net wou sing – vandag staan sy op die punt om haar stem op ’n internasionale verhoog te laat hoor.
Elduné Eberson (10) sing al vandat sy omtrent 18 maande oud is. Soos sy ouer geword het, het die singery oral voortgegaan – in die huis, in die bad, in die motor en terwyl sy gespeel het.
En so het haar ma, Elrenscke Myburgh, altyd geweet waar sy is. Sy het ook saam met die radio gesing en selfs haar eie liedjies opgemaak. Koor, verhoog, kunswedstryde en A++-prestasies het later gevolg.
Die gr. 5-leerder aan die Laerskool Wonderboom in Pretoria is ook die afgelope twee jaar betrokke by stemopnames vir die skool se revueproduksies. Maar eers vanjaar het sy besluit om haar stem alleen op ’n verhoog te toets.

Elduné Eberson wil graag eendag 'n sangeres word. Foto verskaf
Op 13 Augustus het sy haar eerste solosangkompetisie by die Noordekruin-kunstefees by Adamo in Montana aangepak. Sy het “Die lappop” gesing en ’n A ontvang, maar dit was “Lavender’s blue” wat haar ’n A++ besorg het.
“Sy het net ’n maand se formele voorbereiding gehad en was aanvanklik baie senuweeagtig, omdat sy nog nooit alleen voor ’n gehoor en beoordelaars gesing het nie,” vertel Elrenscke.
Min het sy geweet dié prestasie sal vir haar ’n deur oopmaak wat haar veel verder as die plaaslike verhoog sou neem. Die uitslag het haar outomaties vir keuring tot die Magaliesberg-kinderkoor gekwalifiseer.

Elduné Eberson en haar ma, Elrenscke Myburgh. Foto verskaf
Ná ’n tweede oudisie is sy as ’n mezzo in die koor geplaas. Sy het goeie punte behaal en is dieselfde aand formeel in die koor gekies.
Sy geniet dit om saam met die koor te sing omdat dit haar laat voel sy is deel van iets groter as haarself. “Wanneer ek sing, voel ek gelukkig en vry. Dit gee my selfvertroue om meer myself te wees en my eie stem te gebruik.”
Vir haar ma was dit ’n besonderse oomblik. “Dit het gevoel asof mense met baie meer musikale ervaring ook iets in haar stem raakgesien het.” Vir Elduné het die keuring bevestig dat haar liefde vir sing ook met talent gepaardgaan en dat sy haar droom om eendag ’n sanger te word, ernstig kan nastreef. “Ek het ’n passie vir sing en ek wil eendag, soos Eloff en Appel, ’n bekende sanger word.”
Nou kry sy die kans om daardie droom ’n bietjie verder van die huis af te neem. Die Magaliesberg-kinderkoor beplan ’n toer na Italië, Frankryk en Spanje, waar hulle internasionaal sal optree en meeding.
Vir Elduné sal dit die eerste keer wees wat sy op ’n vliegtuig klim én die eerste keer wat sy oorsee gaan. “Ek is baie opgewonde, want ek geniet dit om nuwe plekke te sien.

Elduné Eberson sing al vandat sy baie klein is. Foto verskaf
Sy hou van groot, dramatiese liedjies en hoë note en sien veral uit na Venesië, pasta, Parys en die Eiffel-toring. Maar vir haar is die grootste opwinding om in ander lande saam met haar vriende te kan sing.
Sy erken dat sy tog ’n bietjie senuweeagtig is oor die vooruitsig van ’n groot internasionale optrede. Elrenscke wil graag al die eerstes saam met haar dogter beleef en hoop om saam met haar op die toer te kan gaan. “Ek het haar sien groei van die klein dogtertjie met die kamma-mikrofoon tot ’n kind wat nou die kans kry om op ’n internasionale verhoog te staan.”
Die droom kom egter teen ’n prys. Die beraamde toerfooi beloop ongeveer R45 000 per persoon, wat beteken dat Elrenscke R90 000 vir die twee van hulle moet insamel. Tot dusver is nog geen geld ingesamel nie.

Elduné Eberson saam met een van haar rolmodelle, Eloff. Foto verskaf
Sy het in September met die geldinsameling begin en reeds ondernemings, mediahuise, sakekamers, kuns- en musiekorganisasies, stigtings en gemeenskapsorganisasies genader.
Die eerste deposito moes reeds betaal gewees het, terwyl die volle toerbedrag voor die toer vereffen moet word. Die absolute sperdatum vir betaling is einde Junie 2027.
As die geld nie ingesamel word nie, verbeur Elduné haar plek in die koor. “Ek probeer nie iemand kry om haar hele droom vir ons te betaal nie. Ek probeer net genoeg mense kry wat bereid is om een klein deel daarvan moontlik te maak.”
Vir Elrenscke gaan dit oor meer as net ’n toer. Dit gaan daaroor om haar dogter ’n kans te gee om haar droom te bewaarheid.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
