On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Bekroonde kinderboekskrywer oorlede

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:14 Mon, 12 Oct 2026

Bekroonde kinderboekskrywer oorlede | News Article
Linda Rode. Foto verskaf

’n Bekroonde skrywer, vertaler en samesteller wat deur haar liefde vir stories gehelp het om die verbeeldingswêreld van jong lesers te verruim is oorlede.

Linda Rode is Sondag (11/10) in die ouderdom van 89 jaar oorlede. Sy het kanker gehad.

Sy is op 3 Julie 1937 op Ladismith in die Wes-Kaap gebore. Rode het aan die Stellenbosch-universiteit studeer, waar sy ’n honneursgraad in Duits en ’n onderwysdiploma verwerf het. Voordat sy haar op vryskutvertaling en literêre werk toegespits het, het sy as onderwyser by verskeie skole gewerk. Haar loopbaan het later ’n belangrike bydrae tot Afrikaanse kinder- en letterkunde gelewer.

Rode was veral bekend vir haar werk met kinderliteratuur, sprokies en volksverhale. Haar liefde vir stories het daartoe gelei dat sy verhale uit verskillende kulture versamel en vir Afrikaanse lesers toeganklik gemaak het.

Rode was bekend vir haar kinderboeke. Foto verskaf

Een van haar bekendste werke is In die Nimmer-Immer-Bos, wat in 2009 verskyn het. Die boek bevat 60 sprokies en volksverhale uit verskillende wêrelddele en is deur Fiona Moodie geïllustreer.

Die bundel is in 2010 met belangrike literêre pryse bekroon, waaronder die MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke. Rode se ander bekroonde werke sluit Goue fluit, my storie is uit in, waarvoor sy in 1989 die MER-prys ontvang het. Sy het ook talle kinderboeke vertaal.

Haar bydrae tot die letterkunde het verder gestrek as kinderboeke. As samesteller het sy saam met Jakes Gerwel aan publikasies soos Crossing Over – New Writing for a New South Africa en In the Rapids: New South African Stories gewerk.

Rode het as vertaler ’n belangrike rol gespeel om literêre werke vir Afrikaanse lesers toeganklik te maak. Haar vertaling van Bitter Honey deur Hermione Suttner het as Bitter Heuning verskyn.

Sy word oorleef deur haar man, eiendommark-kenner Erwin Rode, en hul twee kinders, Konrad en Frauke.

Gee begrafnisreëlings is nog bekend nie.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.