Central SA
Dossier se bekendmaking vertraag Clover-bedrogsaak in Kimbereley─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:35 Thu, 15 Oct 2026
’n Voormalige bestuurder van Clover Suid-Afrika in Kimberley se saak is vir ’n maand uitgestel sodat die inhoud van die dossier aan die verdediging openbaar gemaak kan word.
Werner Veldman (45) se saak is Woensdag (14/10) in die Kimberleyse landdroshof uitgestel tot 17 November. Die voormalige bestuurder by die Clover-tak in die stad word daarvan beskuldig dat hy die maatskappy na bewering met meer as R3 miljoen ingeloop het, sê lt.kol. Tebogo Thebe, Valke-woordvoerder.
Veldman is vroeër op borgtog van R10 000 vrygelaat. Hy staan tereg op ’n aanklag van bedrog, alternatiewelik diefstal, asook ’n oortreding van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies (Wet 25 van 2002) en die Maatskappywet.
Hy is in Johannesburg deur die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdaad in hegtenis geneem. Hy is daarna na Kimberley geneem waar hy in die hof verskyn het.
Thebe sê Veldman het na bewering tussen 1 Januarie en 30 April 2024, terwyl hy takbestuurder was, die maatskappy se rekeningkundige stelsel verander om sekere transaksies verkeerd aan te teken.
“Daar word beweer dat hy fakture wat kontant betaal is, in die stelsel as elektroniese bankoordragte aangedui het. Die beweerde bedrog het tydens die bankrekonsiliasieproses aan die lig gekom toe verskille tussen die kontant wat ontvang is en die EFT-betalings wat in die stelsel aangeteken is, opgemerk is.”
In ’n afsonderlike bedrogsaak sal ’n Vrystaatse egpaar en hul twee seuns op 18 November weer in die hof verskyn oor beweerde bedrog van byna R1 miljoen.

Pieter en Elizabeth Smit. Foto verskaf
Pieter Smit (63), sy vrou, Elizabeth (62), en hul seuns, Marnu (32) en Estean (30), se saak is Woensdag (16/9) in die Hoopstad-landdroshof uitgestel sodat afdrukke gemaak kan word van die dossier. Die vier word aangekla van bedrog, diefstal en geldwassery, sê ao. Fikiswa Matoti, Valke-woordvoerder.
Die staat beweer die gesin het tussen 2017 en 2022 die R700 Truck Stop op Hoopstad uit sowat R940 000 bedrieg.
Die onderneming, wat diesel aan boere lewer, is deur die klaer gekoop, waarna hy die bestuur daarvan aan Pieter toevertrou het, wat voorheen dié verantwoordelikheid gedra het en vertroud was met die onderneming se bedrywighede.

“Die beweerde bedrog het aan die lig gekom nadat die eienaar ’n daling in die onderneming se wins begin waarneem het,” sê Marisa Lötter van Lötter & Associates in Hoopstad aan OFM Nuus. Sy ondersoek die saak al byna drie jaar.
Die Valke het die saak ondersoek op versoek van die eienaar, en glo verskeie verdagte transaksies blootgelê. “Daar word beweer kliënte se besonderhede is in sekere transaksies gebruik, terwyl die geld na bankrekeninge gekanaliseer is wat nie aan hulle behoort nie.
“Die ondersoek het ook gewys sommige kliënte het vir diesel betaal, maar nooit hul bestellings ontvang nie,” sê Matoti. Die Smit-familie is op 31 Augustus elk op borgtog van R5 000 vrygelaat. Hul borgtog is later verleng.
OFM Nuus cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.
