South Africa
ANC kry groen lig vir 181 kandidate op stembriewe─── 11:02 Thu, 15 Oct 2026
Die ANC se 181 kandidate in ses munisipaliteite sal op die stembriewe vir die plaaslike verkiesings op 4 November verskyn nadat die Konstitusionele Hof Donderdag in die party se guns beslis het.
Die hof het die Verkiesingshof (OVK) se bevinding van verlede maand tersyde gestel dat die ANC nie aan die Verkiesingskommissie se vereistes vir die elektroniese indiening van kandidatelyste voldoen het nie. Die OVK moet nou alles doen wat nodig is om die party se lyste op die betrokke stembriewe te plaas, berig EWN.
Die beslissing raak Sundays River Valley, Walter Sisulu, Ngquza Hill, Port St Johns, uMshwathi en Mangaung. News24 berig regter Rammaka Mathopo het gesê die hof het met ’n meerderheid beslis dat die ANC se appèl gehandhaaf moet word. Die redes vir die uitspraak sal nog bekend gemaak word.
Die dispuut het ontstaan nadat die ANC voor die sperdatum van 17:00 op 28 Augustus sy kandidaatbesonderhede op die OVK se aanlyn stelsel gelaai en die vereiste deposito’s betaal het, maar nie die “submit as final”-knoppie gedruk het om die lyste finaal in te dien nie.

Regter Rammaka Mathopo aan die woord. Skermgreep: ENCA
Die ANC het aangevoer die regulasies vereis slegs dat elektroniese vorms voltooi en die nodige aanhangsels opgelaai word. Volgens die party word die finale indieningsknoppie nie in wetgewing, regulasies, ’n Staatskoerantkennisgewing of die verkiesingstydtafel as ’n afsonderlike regsvereiste voorgeskryf nie, berig News24.
Die OVK het aangevoer dat die oplaai van inligting sonder finale indiening nie ’n geldige nominasie uitmaak nie. Die DA het dié standpunt ondersteun en daarop gewys dat die ANC die vereiste geken het en die proses vir 251 ander munisipaliteite korrek afgehandel het.
Die DA sê hy respekteer die Konstitusionele Hof se uitspraak, maar is bekommerd oor die presedent wat dit vir die nakoming van OVK-sperdatums en -vereistes kan skep.
Verander nie ANC se kanse
Die party se federale raadsvoorsitter, Ashor Sarupen, meen die uitspraak verander nie die ANC se verkiesingsvooruitsigte nie.
Werner Pretorius, Mangaung-DA-burgemeesterskandidaat, sê die uitspraak “spreek nie die ANC vry van die chaos in die samestelling en indiening van hulle lyste, die chaos in dienslewering en chaos in die bestuur van finansies in Mangaung nie”. Volgens hom is inwoners regoor die metro moeg vir die ANC se bestuur.
“Inwoners van die Metro moet nou op 4 November uitspraak gee op die vrot bestuur en chaos van die ANC deur hulle uit te stem,” sê Pretorius. Hy sê die DA is gereed om by die ANC oor te neem en “skoon, effektiewe regering” aan alle inwoners van Mangaung te lewer.
EWN berig die ANC het volgehou dat hy nie spesiale behandeling vra of nuwe name by sy lyste probeer voeg nie.
Die party meen die opgelaaide kandidaatbesonderhede en betaalde deposito’s het gewys dat hy van plan was om die ses munisipaliteite te betwis.
Die saak kan ook betekenis hê vir minstens 44 ander partye wat besonderhede van meer as 2 000 kandidate opgelaai het, maar nie hul lyste finaal ingedien het nie. Meer duidelikheid word verwag wanneer die Konstitusionele Hof sy volledige redes vir die uitspraak bekend maak.
OFM Nuus cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

