South Africa
Hofsaak oor slimhorlosie van vermoorde vrou hervat─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:22 Wed, 14 Oct 2026
Drie mans wat aangekla word in verband met die beweerde diefstal en verkoop van ’n slimhorlosie wat aan ’n vermoorde vrou van Ekurhuleni behoort het, sal na verwagting Maandag (19/10) weer voorkom.
Kenneth Chibuzor, Stephen Mahlakwane Sekhukhune en Danial Anthony Moat se saak is Maandag (12/10) in die Kempton Park-landdroshof uitgestel om Chibuzor die geleentheid te gee om aansoek te doen om borgtog. Die hof het ook gelas dat sy immigrasiestatus nagegaan word, aangesien hy ’n Nigeriese burger is, sê Magaboke Mohlatlole, Gautengse NVG-woordvoerder.
Die slimhorlosie het aan Elizabeth (Tsontso) Moselakgomo (38) behoort, wie se liggaam op 12 September in Rhodesfield, Kempton Park, gevind is. Sy is op 9 September laas lewend gesien toe sy gaan draf het, waarna haar agtjarige dogter tevergeefs op haar terugkeer gewag het.
‘Die staat beweer Chibuzor het die horlosie op 10 September aan Sekhukhune verkoop’
“Die slimhorlosie het minder as 24 uur nadat Moselakgomo laas gesien is, van eienaar verwissel voordat dit verskeie kere daarna verkoop is. Chibuzor het die horlosie na bewering vir R900 by ’n onbekende persoon gekoop. Hy bedryf ’n tweedehandsewinkel in Kempton Park en word daarvan beskuldig dat hy nie die verkoper se besonderhede en die transaksie aangeteken het soos die wet vereis nie,” sê Mohlatlole.
Die staat beweer Chibuzor het die horlosie op 10 September aan Sekhukhune verkoop. Sekhukhune het dit glo dieselfde dag aan sy Gmail-rekening gekoppel nadat Moselakgomo se profielinligting en instellings verwyder is.
Sekhukhune het die toestel na bewering daarna vir R4 000 aan Moat verkoop. Moat het dit later op sosiale media geadverteer en dit vir dieselfde bedrag aan ’n vierde persoon verkoop. Dié koper is nie aangekla nie, aangesien daar volgens Mohlatlole onvoldoende bewyse is om dié persoon met die beweerde misdryf te verbind.
Chibuzor staan tereg op aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Wet op Tweedehandse Goedere, Geldwassery en Diefstal. Sekhukhune en Moat word van geldwassery en diefstal aangekla. Alternatiewe aanklagte hou verband met die besit of ontvangs van goedere wat vermoedelik gesteel is.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

