On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Gemeenskap staan saam teen borgtog ná moord op Ottosdal-boervrou

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:16 Thu, 15 Oct 2026

Gemeenskap staan saam teen borgtog ná moord op Ottosdal-boervrou | News Article
Die twee beskuldigdes. Inlas: Hannetjie van Zyl. Foto’s verskaf

Die borgtogaansoek van twee mans wat van die moord op ’n Noordwes-boervrou aangekla word, is tot Dinsdag (20/10) uitgestel.

Martin Boitumelo Mosime (28) en Moleko Sekwaage (29) het Donderdag (15/10) in die Ottosdal-landdroshof verskyn. ’n Groep boere en gemeenskapslede het buite die hof byeengekom om hul teenkanting teen borgtog te wys, sê Naudé Pienaar, uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes

Die organisasie het die publiek gevra om aan ’n protesoptrede deel te neem om te help verseker dat die verdagtes nie borgtog ontvang nie. Die twee staan tereg op aanklagte van moord en roof ná die voorval wat Hannetjie van Zyl (55) se lewe geëis het, sê kapt. Kelebogile Morake, provinsiale polisiewoordvoerder.

Hannetjie van Zyl en haar man, Sarel. Foto verskaf

Die beskuldigdes is twee dae ná die gebeure in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding. Van Zyl is Maandag 5 Oktober by die plaashek aan die Doornpan-pad, sowat 17 km buite Ottosdal, aangeval toe sy dit oopgemaak het nadat sy van die werk af teruggekeer het.

Sy is met ’n ysterpyp teen die kop geslaan en van haar handsak en selfoon beroof. Haar man, Sarel van Zyl, het haar ná die aanval aangetref en hulp ontbied. Sy is later aan haar ernstige kopbeserings dood.

Petrus Sitho, ’n aktivis wat hom teen plaasmoorde beywer, was saam met Agri Ottosdal, boere en ander gemeenskapslede buite die hof byeen. Hy het sy dank uitgespreek dat borgtog nie toegestaan is nie. “Ek hoop dat ’n derde verdagte binnekort ook in hegtenis geneem sal word. Ek sal die saak volg totdat geregtigheid geskied.”

Pienaar het vroeër gesê die moord beklemtoon die dringende behoefte aan ’n ander benadering tot misdaad op plase en misdaad in die algemeen.

Hy waarsku die voortgesette toename in misdaad en die versuim om oortreders tot verantwoording te roep, bedreig die veiligheid van boere, hul gesinne en plaaswerkers. Die organisasie meen dringende optrede is nodig om tekortkominge in misdaadbekamping, ondersoeke en die strafregstelsel aan te pak.

Die Noordwes-polisie het vroeër bevestig die twee verdagtes is in hegtenis geneem nadat ’n getuie hulle glo geïdentifiseer het. ’n Derde vermeende medepligtige is steeds op vrye voet.

Van Zyl is Woensdag (14/10) ter ruste gelê.

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.