On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Laurika
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse meisietjie se stemdroom kom ’n stap nader ná suksesvolle operasie

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:03 Fri, 16 Oct 2026

Noord-Kaapse meisietjie se stemdroom kom ’n stap nader ná suksesvolle operasie | News Article
Jude Ameirah Hope Mouton. Foto verskaf

’n Driejarige meisie van Kimberley is ’n stap nader daaraan om ná byna twee jaar weer haar stem te kan gebruik, nadat sy ’n suksesvolle lugwegoperasie ondergaan het.

Jude Ameirah Hope Mouton se lugweg is Woensdag (15/10) tydens ’n komplekse operasie in Kaapstad herstel, waartydens ’n vernouing verwyder en haar stembande oopgemaak is. Die dokters is tevrede met die verloop van die operasie en alles het volgens plan verloop, sê Fahzlin, haar ma.

Die operasie is ’n belangrike mylpaal vir Jude, wat byna twee jaar lank nie ’n hoorbare stem gehad het nie weens ernstige littekenvorming en vernouing van haar lugweg.

Die prosedure beteken Jude sal weer deur haar neus en mond kan asemhaal sonder die lugwegbeperking wat sy voorheen weens die vernouing ervaar het. Haar trageostomie, wat haar help om asem te haal, is egter voorlopig nie verwyder nie.

Jude en haar ma. Foto verskaf

Dokters het ’n stent in haar lugweg geplaas om dit oop te hou terwyl sy herstel. Die stent sal na verwagting eers ná ongeveer drie maande verwyder word, onderhewig aan verdere mediese ondersoeke.

Haar familie sal egter nog ’n rukkie moet wag voordat hulle weet of sy weer sal kan praat. Fahzlin sê Jude se stem kan moontlik terugkeer nadat die stent verwyder is, maar dit sal van verdere assesserings en haar herstel afhang.

“Sy is tans in die intensiewesorgeenheid en word ná die operasie onder verdowing gehou. Sy is gesond en daar is tot dusver geen komplikasies nie, hoewel sy reeds probeer wakker word ondanks die sedasie.” Die dokters verwag om haar teen Maandag (19/10) wakker te maak en dan haar herstel verder te beoordeel.

Jude se mediese uitdagings het reeds voor haar geboorte begin. Foto verskaf

Die gesin sal na verwagting nog minstens tien dae in die hospitaal deurbring. Ná haar ontslag sal hulle vir ’n paar dae in Kaapstad bly sodat haar toestand gemonitor kan word, voordat hulle in Desember vir ’n opvolgbesoek terugkeer.

Jude se mediese uitdagings het reeds voor haar geboorte begin toe dokters ’n probleem met haar hart ontdek het. Sy is in Oktober 2024 geopereer en twee hartdefekte is herstel.

Komplikasies met haar lugweg het egter verdere behandeling genoodsaak. Nadat sy ernstige littekenvorming en vernouing ontwikkel het, is ’n trageostomie aangebring om haar te help asemhaal.

Hoewel die prosedure haar asemhaling ondersteun het, het dit beteken lug kon nie normaalweg by haar stembande verby beweeg om klank te vorm nie.

Sedertdien het Jude haar eie manier ontwikkel om met haar gesin te kommunikeer deur woorde met haar mond te vorm, haar hande te gebruik en aan te dui wat sy nodig het.

Haar ouers hoop nou die jongste operasie sal eindelik die weg baan vir haar om weer sonder die trageostomie asem te haal en moontlik haar stem terug te kry.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.