On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Karoo-seun se rugbydroom neem hom Spanje toe

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:03 Tue, 10 Nov 2026

Karoo-seun se rugbydroom neem hom Spanje toe | News Article
Arend von-Willight (AW) Lambrechts. Foto verskaf

’n Buitelandse toer bied nie net die geleentheid om oorsee rugby te speel nie, maar ook om as speler én mens verder te ontwikkel.

Arend von-Willight (AW) Lambrechts (16) van Victoria-Wes is gekies vir Afrikaner Volkseie Sport (AVS) se o.16-Presidentspan, wat in Desember na Spanje toer. Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat hy vir ’n AVS-span gekies is, nadat hy in 2024 ook deel van die o.14-Duikerspan was.

Lambrechts, ’n gr. 10-leerder aan die Hoër Volkskool op Graaff-Reinet, sê rugby is ’n groot deel van sy lewe en dat hy die geleentheid om sy talent te ontwikkel, as ’n besondere voorreg beskou. “Ek het in gr. 6 vir die eerste keer rugby gespeel en beskou dit as ’n voorreg om die talent wat God my gegee het, op die rugbyveld te kan uitleef.”

Dit is veral die adrenalien en uitdaging van die spel wat hom telkens terug na die rugbyveld lok. Buite die rugbyveld is dit vir hom net so belangrik om ’n positiewe voorbeeld vir ander kinders te wees, veral by die skool, waar hy graag ’n helpende hand uitsteek.

AW (links) droom om eendag die Groen-en-goud aan te trek. Foto verskaf

Sy vorige ervaring saam met die AVS-spanne het reeds ’n belangrike rol in sy ontwikkeling gespeel. “Die toere het my geleer om as deel van ’n span saam te werk met mense wat ek nie noodwendig ken nie. Dit het ook my selfvertroue versterk.”

Die nuus van sy jongste insluiting het hom egter heeltemal onkant gevang. “Dit was baie onverwags. Ek het nie baie woorde gehad nie, maar nou is ek weer opgewonde.” Die toer bied hom ook die geleentheid om weer Barcelona te besoek. Waarna hy veral uitsien, is om by van die stad se rugbyklubs te speel.

Hoewel sy grootste rugbydroom is om eendag die Groen-en-goud aan te trek, dink hy ook reeds aan sy toekoms buite die sportveld. Ná skool wil hy fisioterapie studeer terwyl hy steeds sy rugbydrome najaag.

AW in aksie. Foto verskaf

Sy ouers, Malandi en Vonnie Lambrechts, sê sy liefde vir sport was reeds van kleins af duidelik. “AW het nog altyd ’n liefde vir ’n bal gehad, hetsy rugby, tennis of sokker. Hy het reeds op agtjarige ouderdom gevra wanneer hy Volkskool toe kan gaan, want hy wou sport doen,” sê Malandi.

Volgens sy ouers het AW elke jaar sy rugbyloopbaan verder uitgebou. “Dit is vir ons ’n groot voorreg om hom langs die veld te kan ondersteun. Dit is veral besonders om te sien hoe hy oor die afgelope vier jaar saam met ’n groep seuns as ’n span ontwikkel het.”

AW saam met sy afrigters, Sarel en Malla Pretorius. Foto verskaf

Nes die vorige kere was die nuus van sy insluiting ’n emosionele oomblik vir sy ouers. “Elke keer wanneer hy vir ’n span gekies word, ervaar ons ongelooflike trots – ’n gevoel wat ’n mens nie eintlik kan beskryf nie,” sê Vonnie.

Hoewel dit nie altyd maklik is om ’n jong sportman se drome te ondersteun nie, probeer die gesin om soveel moontlik by sy wedstryde betrokke te wees. 

AW handhaaf ook ’n goeie balans tussen sy akademie, sport en leierskapsverantwoordelikhede.

Sy ouers glo dat elke geleentheid wat oor sy pad kom, ’n kans is om verder te ontwikkel en as mens te groei. “Ons gebed vir hom is dat hy die droom wat die Here en ons vir hom het, sal kan bereik, dat hy gelukkig sal wees en kan doen waarvoor hy lief is en ’n passie het.”

Die Spaanse toer bring egter ook finansiële uitdagings mee. Die koste beloop R50 700, uitgesluit bykomende uitgawes soos visumaansoeke en diesel vir reisreëlings. 

Die gesin het reeds verskeie fondsinsamelings gehou en sê die ondersteuning van die Victoria-Wes-gemeenskap en talle ander mense maak ’n groot verskil.

OFM Nuus/Charne van der Merwe  cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.