South Africa
Twee mans kry lewenslange tronkstraf vir moord─── 16:55 Mon, 09 Nov 2026
Twee mans van onderskeidelik Noordwes en Limpopo is lewenslank tronk toe gestuur vir die moord van ’n man wie se liggaam hulle opgesny en onherkenbaar verbrand het in ’n poging om die misdaad te verbloem.
Die hooggeregshof in Polokwane het Gareth Alexander Potgieter (38) van Klerksdorp en Wynand Carel Steyn (38) van Northam elk lewenslange gevangenisstraf opgelê vir moord en ’n bykomende vyf jaar vir regsverydeling. Die vonnisse sal samelopend uitgedien word wat beteken albei moet effektief lewenslange gevangenisstraf uitdien.
Die NVG verwelkom die uitspraak nadat die twee skuld op albei aanklagte ontken het. Die hof het gehoor die gebeure het op 4 September 2021 begin toe Steyn vir Potgieter gevra het om die slagoffer, Hendrik Stephanus Venter, na sy woning te bring.
Onherkenbaar verbrand
Met hul aankoms het Steyn vir Venter uit die voertuig geruk en hom ernstig aangerand. Venter het probeer vlug, maar is verhinder om weg te kom. Die twee beskuldigdes het hom daarna in ’n voertuig gedwing en weggery. Hulle het toe vasgestel dat hy aan sy beserings beswyk het.
Die mans het saamgewerk om Venter se liggaam op te sny en sy oorskot onherkenbaar te verbrand. Hulle het daarna van sy beendere en as in nabygeleë bosse ontslae geraak, klaarblyklik in ’n poging om die misdaad te verbloem en vervolging te ontduik.
Adv. Mariaan Pretorius, staatsaanklaer, het tydens die vonnisverrigtinge beklemtoon die moord is besonder ernstig. Sy het aangevoer Venter is doelbewus doodgemaak, waarna die beskuldigdes sy oorskot op ’n uiters vernederende wyse gehanteer het. Die opsny van sy liggaam het volgens haar tyd, beplanning en albei mans se deelname geverg.
‘Die beskuldigdes was vasberade om hul misdaad te verbloem’
Die staat het verder aangevoer die verbranding van en wegdoening met die oorskot getuig van die beskuldigdes se vasberadenheid om hul misdaad te verbloem. Hul optrede het fundamentele grondwetlike waardes, waaronder menswaardigheid, liggaamlike integriteit en respek vir oorledenes, ernstig geskend.
Pretorius het die hof versoek om ’n vonnis op te lê wat die erns van die moord en daaropvolgende regsverydeling weerspieël. Die staat het beklemtoon die doelbewuste vernietiging van bewyse en pogings om die gereg te ontduik, moet swaar gestraf word.
Adv. Ivy Thenga, Limpopo se direkteur van openbare vervolging, sê die vonnis bevestig dat moordenaars nie geregtigheid kan ontduik bloot deur bewyse te vernietig nie. “Die heiligheid van ’n menselewe kan nie genoeg beklemtoon word nie. Die NVG bly daartoe verbind om moordsake met mening te vervolg en te verseker dat oortreders verantwoordbaar gehou word.”
“Vonnisse van hierdie aard dien as ’n sterk afskrikmiddel vir diegene wat glo hulle kan iemand anders se lewe neem en geregtigheid ontduik.” Sy het ook haar waardering uitgespreek teenoor Pretorius en die ondersoekbeamptes wie se toegewyde werk tot die suksesvolle vervolging gelei het. Die beskuldigdes is ná ’n deeglike ondersoek in hegtenis geneem en uiteindelik op albei aanklagte skuldig bevind.
OFM Nuus mvr/dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

