Central SA
Polisiebeampte rand glo afleweringsbestuurder naby Rustenburg aan─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:06 Sun, 08 Nov 2026
’n Video van ’n beweerde voorval tussen ’n polisiebeampte en ’n afleweringsbestuurder het vrae oor polisielede se optrede laat ontstaan.
Die voorval het na bewering Saterdagmiddag (7/11) in Thlabane naby Rustenburg plaasgevind. “Die afleweringsbestuurder (33) het ’n saak van aanranding en crimen injuria aanhangig gemaak nadat hy na bewering in ’n woordewisseling met ’n polisielid betrokke was wat in burgerlike klere geklee was,” sê kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder.
Die video van die voorval is sedertdien op sosiale media versprei. Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek.
Interne ondersoek
Lt. genl. Arthur Adams, polisiekommissaris in Noordwes, is bekommerd oor die voorval en enige vorm van geweld, intimidasie of misbruik van gesag deur polisielede. Hy het ook opdrag gegee dat ’n interne ondersoek ná die betrokke polisiebeampte se optrede gedoen word.
“Indien die ondersoek wangedrag of ’n oortreding van die wet bevestig, sal gepaste stappe teen die lid gedoen word. Adams sê polisielede het ’n verantwoordelikheid om gemeenskappe te beskerm, die wet te handhaaf en alle mense met waardigheid en respek te behandel.
Hy waarsku geen polisiebeampte sal beskerm word indien daar bevind word dat hy buite die wet opgetree of die polisiediens se gedragskode oortree het nie. Hy vra die publiek om kalm te bly en die ondersoek toe te laat om sy verloop te neem.
Enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help, word versoek om hul naaste polisiekantoor te kontak of Stop Misdaad by 08600 10111. Anonieme wenke kan ook deur die MySaps-app gestuur word.
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

