Central SA
MS Hoop: Stap saam vir mense wat met onsigbare siektes leef─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:48 Tue, 24 Nov 2026
Nie elke stryd is sigbaar nie.
Met ’n eersdaagse gemeenskapstap wil die organiseerders mense bewus maak van die uitdagings waarmee mense met chroniese siektes elke dag leef. Hulle wil ook wys daar is mense wat omgee en hulle ondersteun.
Rozaan Steyn, stigter van MS Hoop, het die projek in Oktober 2022 begin om meer mense bewus te maak van veelvuldige sklerose (MS) en hoop te bring aan almal wat met die siekte saamleef. Dis op 5 Junie 2020, haar verjaardag, by haar gediagnoseer. Dit was vir haar ’n groot skok, aangesien sy voorheen min van veelvuldige sklerose geweet het.
MS is ’n chroniese outo-immuunsiekte van die sentrale senuweestelsel waarin die liggaam se immuunstelsel die beskermende laag rondom senuwees aanval en beskadig. Dit versteur die boodskappe tussen die brein en die res van die liggaam en kan tot verskeie simptome lei.

Die simptome verskil egter van mens tot mens en kan onder meer probleme met beweging en balans, erge moegheid, gevoelloosheid, pyn, geheue en konsentrasie insluit. Dit kan selfs alledaagse take soos aantrek, kos maak, inkopies en werk bemoeilik.
MS is dikwels ’n onsigbare siekte, aangesien iemand aan die buitekant heeltemal gesond kan lyk terwyl hulle innerlik ’n groot stryd voer. “Party dae kan ’n mens baie goed funksioneer, terwyl selfs eenvoudige take die volgende dag ’n groot uitdaging kan wees,” sê sy.
MS Hoop het tans 41 Warriors oor Suid-Afrika heen, terwyl die organisasie se Facebook-blad ook heelwat ondersteuners en Warriors in die buiteland bereik. Die ondersteuning strek veel verder as bloot bewusmaking.
‘Daar is steeds ’n gebrek aan begrip oor MS’
“Die gemeenskap help lede waar nodig met hulpmiddels soos kieries en rolstoele, asook doeke en kruideniersware. Emosionele ondersteuning, gebede en iemand wat bereid is om te luister, is eweneens deel van die hulp wat gebied word,”
Ds. Martin Botha van Sasolburg is ook deel van die ondersteuningsgemeenskap en staan saam met die Warriors. Hy bied ondersteuning deur besoeke, gebede en berading. “Elke sekonde van elke dag is ’n uitdaging. Een oomblik kan jy berge versit, die volgende oomblik versit die berge jou.”
Daar is steeds ’n gebrek aan begrip oor MS, vertel Steyn. Mense wat dit onder lede het, word dikwels gekritiseer omdat ander nie noodwendig die uitdagings verstaan wat hulle ervaar nie.
Die publiek kry nou die geleentheid om meer oor dié uitdagings te leer deur Sondag (29/11) aan ’n 3 km-staptog by The View on Vaal Resort in Abrahamrust, Vaalpark, deel te neem.
Die stap begin om 08:00 en is oop vir almal, insluitend familie en vriende van die Warriors. Mense wat met ander toestande leef, is ook welkom. Steyn sê hulle is besonder bevoorreg dat Lupus-, kanker- en polymyositis-Warriors ook saam gaan stap.
Die oord het die roete deur Darrel Zaayman beskikbaar gestel. Dit bied ’n rustige omgewing met ’n mooi uitsig oor die rivier. Hulle wil soveel moontlik mense betrek, ongeag hul mobiliteit. Rolstoelgebruikers, mense met elektriese rolstoele, kieries en stappers is almal welkom.
Potterjassie
Public Eye Vaal, ’n sekerheidsmaatskappy van Vaalpark, en Vaal Emergency Ambulance Services van Sasolburg het hul hulp en bystand vir die oggend aangebied. Daar is geen deelnamekoste nie, maar enige skenkings sal verwelkom word om MS Hoop se Warriors te help waar nodig.
Een van die besonderse projekte op die dag is Potterjassie, ’n spaarvarkie wat skenkings sal insamel. Steyn sê die varkie het vir die gemeenskap besondere sentimentele waarde, aangesien baie mense soortgelyke spaarvarkies as kinders gehad het.
“MS Hoop wil vir elke Warrior met enige siekte hoop gee om te glo’
Besoekers kan ook uitsien na ’n waterpunt wat deur I Water, een van MS Hoop se ondersteuners en borge, behartig sal word. Glidepath Internet sal die soetgoedpunt behartig, wat deur een van die MS Warriors beman sal word. ’n Platejoggie sal vir musiek en ’n feestelike atmosfeer sorg.
Vir Steyn gaan die geleentheid egter oor veel meer as net ’n stap. Dit gaan daaroor om mense wat dikwels alleen met hul uitdagings worstel, deel van ’n ondersteunende gemeenskap te laat voel.
MS Hoop wil vir elke Warrior met enige siekte hoop gee om te glo, te vertrou en te weet Jesus hou hulle en die mense wat hulle liefhet, styf aan die hand en sal elke tree saam met hulle stap.
Haar grootste wens is dat elkeen wat Sondag die stap bywoon, deel van die MS Hoop-familie sal word en ook in die toekoms saam met hulle sal voortgaan. MS Hoop-kaartjies met Steyn se kontakbesonderhede sal ook beskikbaar wees. Vir meer inligting kontak Rozaan Steyn by 060 500 2094.
OFM Nuus/Charne van der Merwe dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

