Central SA
Noord-Kapenaars volgende jaar weer voor oor beweerde R1 miljoen-bedrog─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:59 Tue, 24 Nov 2026
Vier Noord-Kapenaars kom na verwagting weer vroeg volgende jaar voor nadat hulle na bewering hul werkgewer uit meer as R1 miljoen bedrieg het.
Vernon van Wyk (54), Boitumelo Portia Aaron (43), Dineo Matsepane (43) en Obamelang Mokgele (44) se saak is tot 20 Januarie uitgestel vir verdere ondersoek. Hulle het Maandag (23/11) vlugtig in die Kimberleyse landdroshof voorgekom.
Hulle is op R10 000-borgtog elk vrygelaat, sê lt.kol. Tebogo Thebe, Valke-woordvoerder. Hulle staan tereg op 266 aanklagte van bedrog en oortredings van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad.
Die vier, wat Saterdag deur die Valke in hegtenis geneem is, het na bewering saamgespan om hul werkgewer, wat in die boumateriaalbedryf werksaam is, te bedrieg.
Thebe sê hulle het die onderneming glo, in samewerking met ’n medepligtige wat by die verskaffer gewerk het, met R1,047 miljoen ingeloop. “Die beweerde bedrogspul het behels dat fiktiewe aankoopbestellings geskep en verwerk is, waarna die geld na bewering deur die betrokkenes in hul sak gesteek is.”
Nog ’n Noord-Kapenaar wat van bedrog beskuldig word, sal op 7 Desember in die hof verskyn, dié keer in ’n hoër hof. Werner Veldman (45), oud-bestuurder van ’n Clover SA-tak, het Maandag (16/11) in die Kimberleyse landdroshof verskyn, waar sy saak na die handelsmisdaadhof oorgeplaas is.
Hy word daarvan beskuldig dat hy Clover uit meer as R3 miljoen sou bedrieg het, sê Thebe. Veldman is vroeër op borgtog van R10 000 vrygelaat.

Werner Veldman. Foto verskaf
Hy staan tereg op ’n aanklag van bedrog, alternatiewelik diefstal, asook oortredings van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies (Wet 25 van 2002) en die Maatskappywet.
Hy is deur die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdaad in Johannesburg in hegtenis geneem en daarna na Kimberley geneem om in die hof te verskyn. Hy het na bewering tussen 1 Januarie en 30 April 2024, terwyl hy as takbestuurder in Kimberley werksaam was, Clover se rekeningkundige stelsel gemanipuleer om sekere transaksies verkeerd aan te teken.
“Fakture wat kontant betaal is, is na bewering in die stelsel as elektroniese bankoorplasings aangedui. Die beweerde bedrog het tydens bankrekonsiliasie aan die lig gekom toe verskille opgemerk is tussen die kontant wat ontvang is en die oorbetalings wat in die stelsel aangeteken is.”
OFM Nuus cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
