On Now
Weekends 09:00 - 13:00
The Central SA Top 40 Laurika
Show Background
NEXT: 13:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Benita
Listen Live Streams

Central SA

Nuwe rade by 26 munisipaliteite in Noord-Kaap verwelkom

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:00 Sat, 28 Nov 2026

Nuwe rade by 26 munisipaliteite in Noord-Kaap verwelkom | News Article
Dr. Gustav Bock. Foto verskaf

Al 26 plaaslike munisipaliteite in die Noord-Kaap het hul nuwe munisipale rade binne die voorgeskrewe wetlike tydperk saamgestel. Dit baan die weg vir die volgende fase van plaaslike bestuur ná die verkiesing.

Die Noord-Kaapse departement van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake verwelkom die suksesvolle verkiesing van uitvoerende burgemeesters, burgemeesters, speakers en raadslede wat nou verantwoordelik sal wees vir die bestuur van die provinsie se munisipaliteite.

Volgens die departement is die afhandeling van die munisipale raadsvergaderings ’n belangrike stap om demokratiese bestuur te versterk. Daar word gevra dat politieke partye en verkose raadslede hul politieke verskille opsyskuif, veral in munisipaliteite waar geen enkele party ’n volstrekte meerderheid het nie en koalisies gevorm is.

Politieke stabiliteit

Lebogang Motlhaping, LUR, sê inwoners verwag nou dat verkose leiers hul aandag op aanspreeklikheid, politieke stabiliteit en beter dienslewering sal toespits. “Die kiesers het hul stemme uitgebring en ons gemeenskappe verwag nou optrede, aanspreeklikheid en tasbare verbeterings in hul daaglikse lewe.” 

Hy sê politieke stabiliteit is noodsaaklik vir doeltreffende munisipale bestuur en dat koalisievennote hul partybelange ondergeskik moet stel aan die behoeftes van inwoners.

Die fokus verskuif nou na die samestelling van die provinsie se vyf distriksmunisipaliteite binne die voorgeskrewe wetlike tydperke. Die departement sal saam met Salga en die provinsiale tesourie voortgaan om munisipaliteite deur opleiding en praktiese bestuur by te staan. “Die doel is om bekwame en responsiewe plaaslike regerings te vestig wat inwoners se behoeftes doeltreffend kan aanpak.”

Van die nuwe munisipale leiers wat reeds bekend is, sluit in Isaac Ruiter by Sol Plaatje, Dieketseng (Olga) Morweng by Phokwane, dr. Gustav Bock by Nama Khoi, Henriëtte du Plessis by Gamagara en Michael Mabilo by Tsantsabane. Johan Andrew Phillips se aanstelling as burgemeester van Siyathemba moet nog formeel bevestig word. Die name van die nuwe leiers in die oorblywende munisipaliteite is nog nie bekend gemaak nie.

OFM Nuus dg

* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.