On Now
Weekends 09:00 - 13:00
The Central SA Top 40 Laurika
Show Background
NEXT: 13:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Benita
Listen Live Streams

Central SA

Polisie waarsku Noordwes-inwoners om waaksaam te wees in feestyd

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 06:40 Sat, 28 Nov 2026

Polisie waarsku Noordwes-inwoners om waaksaam te wees in feestyd | News Article
Die polisie vra inwoners van Noordwes om in die feestyd veilig te bly. Foto ter illustrasie: iStock

Dit is die einde van die matriekeksamen, skole en ondernemings sluit vir die Desembervakansie en daarom vra die polisie inwoners moet waaksaam wees en hul veiligheid eerste stel.

Inwoners moet versigtig wees wanneer hulle tuis is, inkopies doen, toeristebestemmings besoek of op die provinsie se paaie reis. “Meer polisiebeamptes sal in dié tydperk op die paaie en in gemeenskappe ontplooi word om sigbare polisiëring te verhoog,” sê konst. Thuto Bobelo, provinsiale polisiewoordvoerder.

Die publiek word ook aangemoedig om aktief by misdaadvoorkoming betrokke te wees deur verdagte aktiwiteite aan te meld en die polisie se oë en ore in hul gemeenskap te wees. 

Inwoners wat met vakansie gaan, word aangeraai om nie hul reisplanne wyd bekend te maak nie, maar dit slegs met mense wat hulle vertrou te deel. Hulle moet ook seker maak dat deure behoorlik gesluit is en dat die nodige veiligheidsmaatreëls getref is.

'Motoriste moet hul roetes vooraf beplan'

“Die polisie maan motoriste om veral op lang reise versigtig te wees. Bestuurders moet hul veiligheidsgordels dra, ’n veilige volgafstand handhaaf en onder geen omstandighede onder die invloed van drank bestuur nie,” sê Bobelo.

Motoriste moet hul roetes vooraf beplan, gereeld stilhou en minstens elke twee uur ’n blaaskans van 15 minute neem. Indien hulle moeg of rusteloos voel, moet hulle by ’n veilige plek stilhou en rus voordat hulle verder ry.

Diegene wat snags reis, moet op die uitkyk wees vir verdagte mense of voertuie en verkieslik nie onbekende roetes gebruik nie. Indien iemand van agter in jou vasry en die situasie verdag voorkom ry eerder na die naaste polisiekantoor of ’n ander veilige plek.


Moenie rylopers oplaai of langs die pad stop om vreemdelinge te help wat skynbaar in die moeilikheid is nie. Bel eerder die polisie om te kom help. 

Bobelo sê moenie groot bedrae kontant by jou dra in winkelsentrums nie. Waardevolle besittings moet nie in winkeltrollies gelaat word nie; beursies moet veilig weggepak word en hou jou PIN’s geheim. Ouers moet seker maak dat hulle weet waar hul kinders is en hul hande in besige winkelsentrums vashou. Gaan ook saam met hulle na die openbare toilette. 

Drankmisbruik

Stokvelgroepe moenie groot bedrae geld by kitsbanke onttrek nie en eerder die lede se geld elektronies na hul bankrekeninge oorplaas. Die polisie waarsku teen drankmisbruik in die feestyd en herinner drankhandelaars daaraan dat die Wet op Dranklisensiëring van 2016 die verantwoordelike verkoop en verbruik van drank reguleer. Wetstoepassers sal optree teen enige persoon wat drank verkoop wat teenstrydig is met die bepalings van hul dranklisensie.

Gemeenskappe moet onder meer saam met beheerliggame, gemeenskapspolisiëringsforums, Community in Blue en die polisie help om skole teen vandalisme en inbrake te beskerm. Die doel is om te verseker dat leerders in 2027 na veilige skole kan terugkeer en die akademiese jaar betyds kan begin.

OFM Nuus dg

* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.