Central SA
Vyf verdagtes aangekeer ná dubbele plaasmoord in Noordwes─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:21 Sun, 29 Nov 2026
Vyf mans sal na verwagting Maandag (30/11) in die hof verskyn nadat twee plaaswerkers in Noordwes vermoor is, vermoedelik in verband met veediefstal.
Die vyf verdagtes, 20 tot 54 jaar, is Donderdag (26/11) in hegtenis geneem. Dit volg ná ’n gesamentlike ondersoek deur speurders van die Dr Kenneth Kaunda-distrik en die provinsiale moord-en-roofeenheid, sê konst. Thuto Bobelo, provinsiale polisiewoorder.
Die liggame van die twee mans, 44 en 46, is Woensdagmiddag (25/11) op die plaas Sommeville in die Klerkskraal-gebied ontdek. “Een van die slagoffers is in die veld aangetref met sy hande agter sy rug vasgebind, terwyl die ander een binne sy blyplek op die plaas gevind is. Albei het sigbare beserings opgedoen.”
Die verdagtes se bekentenisse het hulle glo met ’n sindikaat verbind wat by veediefstal betrokke is. Bobelo sê veediefstal word as die moontlike motief vir die moorde ondersoek. Die ondersoekers probeer ook vasstel of hulle met enige ander veediefstalsake verbind kan word.
Die vyf verdagtes sal in die Ventersdorp-landdroshof verskyn. Die saak is aan die polisie se provinsiale moord-en-roofeenheid oorhandig vir verdere ondersoek. Lt. genl. Arthur Adams, provinsiale polisiekommissaris, het die moorde ten sterkste veroordeel en die ondersoekspan geloof vir hul samewerking wat tot die inhegtenisnemings gelei het.
Hy sê aanvalle op plaaswerkers en boerderygemeenskappe sal nie geduld word nie en dat die polisie hul pogings sal verskerp om veediefstal en verwante geweldsmisdade te bekamp.
OFM Nuus dg
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427

