Cricket
Kommer oor stadions vir Februarie se WB-toernooi─── 08:50 Mon, 10 Jan 2011

New Delhi. – Vrese bestaan dat verbeteringe aan verskeie stadions nie betyds voltooi sal word vir die Wêreldbeker-kriekettoernooi nie.
Die toernooi begin op 19 Februarie en sal in Indië, Sri Lanka en Bangladesj plaasvind.
Vernuwings aan Eden Gardens in Kolkata wat aan 80 000 sitplek bied, is een van die grootste hoofbrekens vir die organiseerders.
Daar word tans oortyd gewerk om twee paviljoene betyds te voltooi met werkers wat nog nie eens begin het met die dakke nie.
Losies is nog nie voltooi nie, toilette is stukkend of verstop en verskeie sitplekke moet nog aangebring word.
“Dit is onmoontlik om so ’n yslike projek in slegs 11 maande te voltooi,” sê Sajal Pramanik, bestuurder van die Shapoorji Pallanji-konstruksiemaatskappy, wat dié verbeteringe by Eden Gardens aanbring.
Volgens ’n vertroulike verslag aan die Internasionale Krieketraad wat aan die koerant Deccan Herald gelek is, sal Eden Gardens en die Wankhede-stadion in Moembai nie betyds vir 31 Januarie se spertyd gereed wees nie. - Sapa - AFP