International
FBI wys video, foto’s van Charlie Kirk se vermeende skieter─── 09:31 Fri, 12 Sep 2025

’n Man in swart geklee hardloop oor die dak vanwaar die skoot afgevuur is, spring verskeie meter na benede en verdwyn in ’n beboste gebied naby die kampus van die Utah Valley University in Amerika.
Dié tonele is op dramatiese beeldmateriaal wat die FBI saam met nuwe foto’s uitgereik het van die verdagte wat verbind word met die skietvoorval waarin die konserwatiewe aktivis Charlie Kirk Woensdag in Utah dood is. Die landwye soektog na die verdagte duur reeds vyf dae en word daagliks verskerp.
Die nuwe foto’s van die verdagte wat die FBI uitgereik het, toon die “persoon van belang” wat ’n swart T-hemp met ’n Amerikaanse vlag en Converse-skoene aan het. ’n Beloning van $100 000 word aangebied vir enige inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagte lei.
Die man is na bewering die skieter in Utah. Foto: X
Meer as 7 000 leidrade is reeds ontvang en ondersoekbeamptes het die geweer gevind wat vermoedelik in die aanval gebruik is. Forensiese spanne ondersoek die moontlikheid dat die vuurwapen met hom verbind kan word. Die FBI bevestig bewyse word versamel met die oog daarop om uteindelik die doodstraf in hierdie saak ingestel te kry.
“Dit was ’n geteikende, politiek gemotiveerde daad,” sê ’n FBI-woordvoerder. “Ons hanteer hierdie saak met uiterste erns en akkuraatheid.”
Kirk, ’n uitgesproke konserwatiewe kommentator, was besig om by ’n studentebyeenkoms te praat toe hy geskiet is. Sy dood het wêreldwyd opslae gemaak en die debat oor kampusveiligheid en ideologiese ekstremisme weer laat opvlam.
Bron: BBC
OFM Nuus cvs dg