On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Pulane
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Laurika
Listen Live Streams

Entertainment

Kelly wié, vra Klein Kwagga

───   CORNÉ GREYVENSTEIN 14:33 Thu, 08 Feb 2024

Kelly wié, vra Klein Kwagga | News Article
Klein Kwagga vang Kelly Clarkson se oog

“En hoewel die skool baie tegemoetkomend is, wys sy ouers talle versoeke van die hand as hulle voel dat dit met sy skoolwerk en kindwees gaan inmeng.”

Goeie maniere sal jou dra na waar geld nie kan gaan nie, het die wyse Amerikaanse digter en skrywer Margaret Walker gesê. En gepaard met energieke danspassies kan ’n vars briesie van goeie maniere deure oopwaai – soos na die trol-karakter Delta Dawn, dalk beter bekend vir die stem van Kelly Clarkson.


Dié Amerikaanse sangeres, liedjieskrywer, televisiepersoonlikheid en wenner van die eerste seisoen van American Idol het Klein Kwagga in aksie gesien. Sy het dadelik haar NBC-televisievervaardigers gevra om hom op te spoor.

Dirkco Jansen van Nieuwenhuizen, of Klein Kwagga, se ma, Mercia, is gevra of hy ’n “Hi Kelly”-video sal maak. Die gesin het onlangs besluit om Dora-Mari Bosch van BW Models, ook die bemarkings- en kommunikasiekoördineerder van die klerereeks Boerboel Wear, as Klein Kwagga se agent aan te stel om sy belange te beskerm.

"Ons het besluit om kreatief te wees en die video ordentlik te doen. Dirkco se woorde sinspeel selfs op van Clarkson se musiektitels. Ons het die video op die Van Nieuwenhuizens se plaas in die Balfour-distrik gaan verfilm en was verbaas toe ons sien hoe natuurlik Dirkco voor die kamera is. Hy het beter gedoen as meeste volwassenes en baie van die grepe is ongeredigeerd behou, net soos ons dit die eerste keer verfilm het,” sê Bosch.   


“Clarkson was só beïndruk met die video dat hulle ’n Skype-onderhoud met hom gereël het. Dit is hierdie onderhoud waarna mense Maandag (12/2) kan kyk.”

Dirkco het aanvanklik nie geweet wie Kelly Clarkson is nie, maar toe haar vervaardigers vir hom sê dis die stem agter die trol Delta Dawn, was hy baie opgewonde. Delta Dawn is 'n karakter in DreamWorks Trolls, ’n Amerikaanse rekenaar-geanimeerde (3D) musikale komedie.

Bosch wil mense gerusstel wat besorgd is oor Dirkco se skielike roem en bevestig dat die Van Nieuwenhuizens hul kinders se belange eerste stel. Dirkco het pas 8 jaar oud geword en is in gr. 2. “Sy sport, akademie, redenaars en skool is vir hom baie belangrik. En hoewel die skool baie tegemoetkomend is, wys sy ouers talle versoeke van die hand as hulle voel dat dit met sy skoolwerk en kindwees gaan inmeng.”

Die Van Nieuwenhuizen-gesin is plat op die aarde, geanker in hul geloof en het hul kinders die grootste geskenk moontlik gegee – goeie maniere.

’n Opname deur Public Agenda – ’n onpartydige, Amerikaanse navorsingsgroep oor openbare beleid – het in ’n studie in Amerika bevind dat 84% van die deelnemers aan die opname glo dat ’n groot oorsaak van oneerbiedigheid in die Amerikaanse samelewing daaraan toegeskryf kan word dat te veel ouers deesdae versuim om kinders goeie maniere en respek vir ander te leer.

Hoewel hierdie geskenk gratis is om te gee, kan dit groot voordele vir onsself en diegene rondom ons inhou, eenvoudig deur beleefd en vriendelik te wees – soos om asseblief en dankie te sê, aandagtig te luister en oogkontak met mense te maak. Dít is ’n integrale deel van Dirkco se gesinslewe en moontlik ons reënboognasie se pot goud wat die wêreld stadig maar seker begin ontdek.

Kelly Clarkson het voorwaar iets sien skitter hier aan die suidpunt van Afrika – ’n vars briesie van (dansende) goeie maniere.

OFM Nuus/Corné Greyvenstein dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.