On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Entertainment

Afrikaanse Wikipedia vier 25 jaar van taalbewaring, kennisdeling

───   DITEBOGO MOLEFI 13:06 Mon, 16 Nov 2026

Afrikaanse Wikipedia vier 25 jaar van taalbewaring, kennisdeling | News Article
Deon Steyn, direkteur van die Afrikaanse Wikipedia. Foto verskaf

Van wetenskaplike kennis en geskiedenis tot plaaslike plantname en kulturele gebruike: Die Afrikaanse Wikipedia vier Maandag (16/11) 25 jaar van kennisdeling en die bewaring van Afrikaans in die digitale era.

Wat 25 jaar gelede as ’n aanlyn ensiklopedie begin het, het ontwikkel tot ’n digitale ruimte waar Afrikaanssprekendes kennis kan deel, inligting kan ontdek en hul taal- en kultuurerfenis vir die nageslag kan bewaar.

Vir Deon Steyn, direkteur van die Afrikaanse Wikipedia, is die projek se groei en volgehoue relevansie besonder betekenisvol. Sy eie betrokkenheid het sowat 18 jaar gelede begin toe hy tydens ’n nuwe werksgeleentheid toegang tot die internet gehad het en toevallig op die Afrikaanse Wikipedia afgekom het.

Enigeen kan ’n artikel op Afrikaanse Wikipedia skryf.

Hy sê hy het aanvanklik bloot rondgesnuffel, maar die projek het mettertyd ’n persoonlike passie geword.

Een van die grootste hoogtepunte met die jare is die groei in die aantal mense wat die platform besoek. Volgens Deon het die maandelikse besoekersgetalle van ongeveer een miljoen tot 1,2 miljoen gegroei voordat dit verlede jaar sowat 2 miljoen bereik het. Vanjaar het die platform reeds by verskeie geleenthede meer as 3 miljoen besoeke aangeteken.

Hy meen dié groei beklemtoon die behoefte aan ’n toeganklike aanlyn ensiklopedie in Afrikaans. Anders as die Engelse Wikipedia en ander taalweergawes bied die Afrikaanse Wikipedia ’n ruimte waar kennis spesifiek in Afrikaans beskikbaargestel word. Dit is veral belangrik omdat die laaste stel gedrukte Afrikaanse ensiklopedieë reeds meer as 40 jaar oud is.


Die digitale platform bied ook geleenthede om besonderhede te bewaar wat andersins maklik verlore kan gaan.

Steyn vertel artikels oor plante bevat byvoorbeeld nie net hul wetenskaplike name nie, maar ook volksname en plaaslike benamings. Omdat die aanlyn ensiklopedie nie aan dieselfde ruimtebeperkings as gedrukte publikasies onderhewig is nie, kan hierdie inligting volledig opgeteken en vir toekomstige geslagte bewaar word.

Agter die groei van die platform staan ’n gemeenskap van vrywilligers wat hul tyd en kennis beskikbaar stel.

Steyn beklemtoon niemand word betaal om by te dra nie en dat niemand oor al die kennis ter wêreld beskik nie. Dit is juis deur mense met uiteenlopende agtergronde en kundigheidsgebiede wat saamwerk dat die ensiklopedie voortdurend uitgebrei word.

Hy moedig nuwe bydraers aan om betrokke te raak deur hul kennis te deel en aan te bied om artikels te help verbeter of nuwe inligting by te voeg.

Terwyl Afrikaanse Wikipedia sy 25-jarige bestaan vier, bly die ingesteldheid op samewerking en die bewaring van kennis, sê Steyn.

Die mylpaal is nie net ’n viering van hoe ver die platform gekom het nie, maar ook ’n herinnering aan die rol wat gewone mense kan speel om Afrikaans toeganklik en lewend te hou vir opkomende geslagte.

OFM Nuus/Ditebogo Molefi sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.