Entertainment
Ramkietjiejaar: Jannie du Toit sing wyd en syd─── SUSAN MARÉ 16:05 Tue, 17 Nov 2026
Jannie du Toit se Ramkietjiejaar 2026 vier nie net 55 jaar op die beroepsverhoog nie, maar ook sy 75ste verjaardag.
Hy kom op 6 Desember ’n draai maak in Bloemfontein in die Naval Hill-planetarium ten bate van die Jean Webber-huis vir gestremdes. Jannie het sy lewe daaraan gewy om ligte Afrikaanse musiek, kleinkuns en kabaret in sy moedertaal te bevorder. Ramkietjie is sedert April vanjaar as sy vlagskipproduksie vir 2026 landwyd op toer.
Die Ramkietjietoer is ’n ode en viering van die Afrikaanse lied soos dit van 1937 tot 2012 in die FAK-Sangbundels vasgelê is.
Sy repertorium is indrukwekkend. Een van sy baie nalatenskappe is hy ook die werk van liedjieskrywers soos Emiel Hullebroeck, Danie Bosman, Jan Pohl, Lucas Maree, David Kramer, Koos du Plessis, Louis van Rensburg, Anton Goosen en Johannes Kerkorrel bevorder het.
‘Na meer as vyf dekades het Jannie se stem stem sy kenmerkende volheid en bekoorlike warmte behou’
Jannie se stem word gekenmerk deur ’n warm, ryk klankkleur wat ideaal is vir luisterliedjies, kleinkuns en kabaret. As ’n bariton lê sy gemaklike sangregister in die middelste tot laer manstemgebied, tussen tenoor en bas. Met hierdie stem het hy baie aanhangers verower en so deel van baie Suid-Afrikaanse verhoë geword.
Die woordkuns is vir Jannie sy groot liefde. Sy liefde vir Afrikaans en emosionele storievertelling is een van sy sterktes as sangkunstenaar.
Dit kom veral na vore in sy akoestiese kitaarwerk en sy vertolkings van kunstenaars soos Jacques Brel en Koos du Plessis. Na meer as vyf dekades het Jannie se stem sy kenmerkende volheid en bekoorlike warmte behou.

Van link is Chanie Jonker (pianis), Jannie du Toit en Susan Mouton (tjellis) tydens ’n onlangse opvoering van Ramkietjie in die Centurionteater. Foto: Facebook/Jannie du Toit
As baanbreker word Jannie erken as die grondlegger van die litirêre kabaret sowel as die Musiek-en-liriekbeweging in Suid-Afrika. Jannie se musikale curriculum vitae is indrukwekkend. Nie net het hy met groot name saamgewerk nie, maar die projekte en produksies wat aan hom gekoppel word oor jare maak van hom ’n legende in die Afrikaanse musiekbedryf.
Hy is op 13 Desember 1951 op Heidelberg in die ou Transvaal gebore en het ná skool as prokureur gekwalifiseer voordat musiek sy lewensrigting bepaal het. Dis ’n driekwarteeu later en die bekroonde sanger sing steeds. Hy is onder meer al deur die FAK, die ATKV en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer: in 2009 met ’n erepenning van die akademie en in 2023 deur die Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings vir sy besonderse loopbaan.
Sy samewerking met die komponis Christa Steyn het oor ’n kwarteeu gestrek en hy het verskeie internasionale konsertreise in die Benelux-lande onderneem.
Verjaardagfees in twee dele
Jannie se optrede by die Taalmoument op 13 Desember is ’n verjaardagfees in twee dele. Die aand begin met die Ramkietjie-program, en ná die pouse sing hy ’n keur van liedjies uit sy hele loopbaan. Dit sluit treffers soos “ ’n Liedjie vir jou” en “Die eggo van jou oë” in.
Die aand sluit af met “Gee ons vrede”. Jannie het dit in 1990 vir koor verwerk, en sedertdien word sy verwerking deur kore landwyd gesing. Lede van Xander Kritzinger se Viva Cantare-koor en ’n klompie van Jannie se musiekvriende het ingewillig om dit by die monument saam met hom uit te voer.
“Dié lied het vir my besonderse betekenis. Verder – ek is lief vir my taal, en ek is uitgesproke daaroor,” sê hy. “Maar in die mond van die persoon wat ’n taal liefhet, is elke taal besonders.”
Oor volksliedjies, waarvan talle met die jare in die FAK-Sangbundels opgeneem is, vertel Jannie dat prof. Chris Lamprecht, wat onlangs op 99 jaar oorlede is, sy hoof by Tukkies se Kultuurburo in die tagtigerjare was.
Lamprecht het die beeld gebruik van die klippie wat in die rivier lê. “Met die eeue spoel dit in die water rond en word al hoe gladder. En dan lê dit so lekker op die volkstong, en gly dit gemaklik oor die volkstong.”
Hy sal nooit probeer beweer dat sing harde werk is nie, maar om al die dinge te doen wat ’n loopbaan van jou vereis, is ’n heeltydse werk: “Dit is net ’n geweldige seën dat jy ná 55 jaar nog jou passie kan uitleef.
‘Ek doen dit nog altyd in die eerste plek omdat dit vir my lekker is’
“Dit is vir my wonderlik dat Afrikaanse mense dikwels sê ek het ’n bydrae gelewer tot die ontwikkeling van ligte Afrikaanse musiek. Ek is uiters dankbaar daaroor, maar ek doen dit nog altyd in die eerste plek omdat dit vir my lekker is.”
Ramkietjie se landwye toer begin op Donderdag 3 Desember in Pretoria en eindig op 21 Desember op Sutherland. Sy 75ste verjaardag word op Sondag 13 Desember by die Taalmonument gevier.
Navrae oor optredes kan gerig word aan Jopie Koen by 072 460 5568 of jopie@pierneefteater.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

