Entertainment
Jaarlikse Tempe-lugskou beloof opwinding en vermaak─── HEIDRÈ MALGAS 15:48 Fri, 24 May 2024

“Wat sedert ons vroeëre lugskoue verander het, is dat brandstof peperduur geword het, en die lugmag se ondersteuning en betrokkenheid het afgeneem.”
Die Tempe-lugskou beloof gesinsaktiwiteite en opwinding, soos ’n helikopter wat ’n Ferrari teen 250 km/h gaan jaag.
Die jaarlikse Tempe-lugskou vind Saterdag (25/5) plaas op die Tempe-lugbasis met opwindende vertonings, soos ’n supermotor wat teen ’n helikopter jaag.
“Hierdie is my sesde lugskou by die Tempe-lughawe waarvoor ek as organiseerder betrokke is, maar ek het vir elke lugskou ’n ander rol in die komitee vervul,” sê Johan Naude, ’n organiseerder. “Wat sedert ons vroeëre lugskoue verander het, is dat brandstof peperduur geword het, en die lugmag se ondersteuning en betrokkenheid het afgeneem.”
‘Lugskoue neig nou meer na ’n gesinspretdag’
Die lugmag het altyd gratis deelgeneem, en dit was ’n groot trekpleister. “Maar om nou een vegvliegtuig vir die dag te laat kom, kos ons byna R80 000 net aan brandstof. Waar die tradisionele lugskoue ’n meer militêre inslag gehad het, neig dit nou meer na ’n gesinspretdag met ’n wyer verskeidenheid vermaak as net vliegtuie,” vertel Naude.
Hy sê daar gaan baie pret vir die kinders wees, sodat hulle nie verveeld raak nie. Vir die volwassenes is daar ’n biertuin met lewendige vermaak regdeur die dag, en ’n “afterparty” met die orkes Karoo op die verhoog.
“Daar gaan ongeveer 50 stalletjies wees met kos en ander snuisterye wat dit ’n fees-atmosfeer gaan gee, selfs juwele en handsakke vir die dames, en oorvloedige kos, koffie, roomys en pannekoek wat sinoniem is met ’n lugskou,” voeg hy by.
Een van die vliegtuie. Foto: verskaf
Die hoogtepunt is die vliegtuie en vliegkuns wat deur die land se voorste vlieëniers vertoon gaan word. “Mense vra altyd of daar vegvliegtuie gaan wees, en die antwoord is ja,” sê Naude. “Daar gaan ook verskeie formasievlugte en aërobatiek wees met baie rook en geraas.
“Nog ’n hoogtepunt gaan wees wanneer die Gazelle-helikopter teen ’n Ferrari-sportmotor gaan jaag teen ongeveer 250 km/u. Daar wag ook ’n fantastiese vliegvertoning as verrassing vir die toeskouers aan die einde van die lugskou, maar dis ’n verrassing.”
Die L-39 vegvliegtuig is nog ’n hoogtepunt. Die volledige naam is eintlik die Aero L-39 Albatros, ’n ligte vegvliegtuig wat gebruik is in aanvalle en opleiding in Tsjeggo-Slowakye.
‘Die vliegtuig word steeds in baie Oosbloklande as ’n aanvalsvliegtuig gebruik’
Dit is nou in die privaat besit van Dave Mandell, wat ook die vlieënier is. Die vliegtuig, wat in 1968 vir die eerste keer in gebruik geneem is, word steeds in baie Oosbloklande en Noord-Afrikaanse lande as ’n aanvalsvliegtuig gebruik. Dit kan ook met missiele toegerus word vir lug-tot-lug aanvalle.
“Ons begin altyd met die beste vertonings eerste, sodat ons verseker is dat daar goeie aksie vir die dag is, aangesien hierdie vertonings moeilik beskikbaar is weens hul gewildheid.
“Daarna vul ons die program met opwinding en verskeidenheid vermaak, soos die supersportmotorparade, die Harley-Davidson-optog gedurende etenstyd, en natuurlik valskermspronge! Selfs die pantsermuseum gaan pantservoertuie uitstal wat in die Angola-bosoorlog gebruik is,” voeg hy by.
‘Permitte en goedkeuring begin al ’n jaar voor die tyd’
Vveiligheidsmaatreëls by ’n lugskou is ongelooflik streng en die organiseerders moet aan heelparye regulasies en vereistes voldoen. “Hierdie permitte en goedkeuring deur die owerheid begin al ’n jaar voor die tyd. Vlieëniers wat deelneem moet oor ’n lugskou-gradering beskik.
“Hulle mag net ’n sekere afstand vanaf die toeskouers vlieg. Daar is ’n veiligheidsbeampte wat deurentyd alles monitor, en die lugskou kan onmiddellik gestaak word as enigiets nie reg lyk nie,” sê hy.
OFM Nuus/Heidrè Malgas mvh