On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Entertainment

Bloemfonteinse fotojoernalis se Karoodokkie gekies vir Silwerskermfees

───   HEIDRÈ MALGAS 08:09 Wed, 07 Aug 2024

Bloemfonteinse fotojoernalis se Karoodokkie gekies vir Silwerskermfees | News Article
“Tussen die Draad en die Dropper” is ’n reis saam met die Bloemfonteinse fotojoernalis Willem van den Berg op soek na ’n verlore draadspanner. Foto verskaf

“In die dokumentêr het Willem ’n jare lange en noue verbintenis met Hans, maar nou is daar geen spoor van hom nie.”

“Tussen die Draad en die Dropper” is ’n reis saam met die Bloemfonteinse fotojoernalis Willem van den Berg op soek na ’n verlore draadspanner van die Hardemanskaroo.

Die dokumentêr wys vanjaar op die kykNET Silwerskermfees, ’n hoogs aangeskrewe Suid-Afrikaanse en Afrikaanse rolprent-en-inhoudsfees.

In die dokumentêr het Willem ’n jare lange en noue verbintenis met Hans, maar nou is daar geen spoor van hom nie. Die boer vir wie hy ’n hele Karookoninkryk toegespan het, wil niks sê nie.

In die ontrafeling van die raaisel rondom Hans word die skerp skeidslyne in ’n ongenaakbare landskap en verdeelde gemeenskap sigbaar. Dit is ’n storie oor mense wat aan die verkeerde kant van die draad gebore is – die kant waar jy net kan stil raak, verdwyn en niemand iets daaromtrent kan doen nie.

Willem van den Berg se dokumentêr wys vanjaar op kykNET se Silwerskermfees. Foto verskaf

Die inspirasie vir die dokumentêr, sê Van den Berg, is dat Hans en al die ander mense waaraan niemand ooit dink nie, hom laat besef het baie en belangrike stories gaan verlore.

“Dit was van die begin van my joernalistieke loopbaan vir my belangrik om hierdie stories te vertel,” sê Van den Berg. “Die laaste paar jaar voel dit soos my lewenstaak en plig. As gevolg van klein begrotings en allerhande ander redes beweeg joernaliste al hoe minder en nie sommer baie ver nie.

“Dit is vir my verskriklik hartseer dat dit veroorsaak dat stories in die stil dele van ons land nooit gesien of gehoor word nie. Ek probeer regtig alles moontlik om by hierdie ‘weggesteekte lewens en stories’ uit te kom.”

Van den Berg se lang en noue verbintenis met Hans het ontstaan omdat hy nie ná skool dadelik gaan studeer het nie. Hy het eers vier jaar in die Kalahari (naby Vanzylsrus) en die Karoo (naby Carnarvon) geboer, windpompe reggemaak, jakkalse gejag en skape versorg.

‘Ek weet mense weet nie hoe hard draadspanners se bestaan is nie’

“In 2004 en 2005 het ek vir ’n boer gewerk, en dit was op sy plase rondom Carnarvon en Fraserburg waar ek vir Hans Jors leer ken het. Hy was die draadspanner daar, en ek het gou agtergekom dat hy uiters trots was op sy werk en dit uitstekend gedoen het,” vertel Van den Berg.

Toe hy ’n paar jaar later joernalis geword het, het hy geweet hy wil ’n storie oor Hans, die meesterdraadspanner van die Karoo, skryf. “Ek weet mense weet nie hoe hard draadspanners se bestaan is nie, en in 2015 het ek uiteindelik die kans gekry om weer vir Hans te gaan kuier. Ek het twee dae saam met hom en sy handlanger, Danwell Jantjies, in die veld gebly en ’n artikel vir die tydskrif Weg! geskryf.”

“Hans het nog nooit ’n selfoon gehad nie en die plekke waar hy werk, is in elk geval ver verwyderd van enige opvangs. As ek van Hans wil weet, moet ek die boer kontak waar hy al sedert 1994 werk.”


Toe hy verlede jaar met die boer gesels het om te hoor of Hans nog daar is omdat hulle weer ’n storie oor hom wou doen, het hy gesê Hans is steeds op die plaas, maar hy wou nie hê hy moet vir Hans sien nie.

“Ná ’n paar oproepe het dinge effens vreemd begin voel, en daarom is ek na Sutherland toe om by Hans se familie en vriende te gaan hoor wat aan die gang is. Hulle het egter lank tevore vir Hans gesien of van hom gehoor, en so het die soektog na Hans begin.”

‘Ons het hom diep in die Roggeveldberge rondom Sutherland gekry’

Die grootste uitdaging was om vir Hans op te spoor of ten minste te sien dat hy oukei is, en dan die storie binne slegs ’n halfuur volledig en goed te vertel.

“Een van die onverwagte ontmoetings was met Hans se broer, Nieklaas. Ons het hom diep in die Roggeveldberge rondom Sutherland gekry, waar hy ook besig was om draad te span.

“Nieklaas het ’n wonderlike en sjarmante karakter in die film geword. Sy stories oor sy broer en die lewe as draadspanner laat jou lag én bring trane in jou oë.”

Al die antwoorde oor Hans en of hy gevind is, is in die rolprent, wat later vanjaar op kykNET en Showmax te sien sal wees.

‘Ons is baie opgewonde om ons storie tussen ander wonderlike films te sien’

Die reis het Van den Berg baie beïnvloed, veral die ongelooflike armoede waarin die bruin gemeenskappe van die Karoo leef en die feit dat ander mense dikwels soveel beheer oor hul lewe het. Dit het hom opnuut ontstel. Dat hulle dit meestal as hul normale bestaan aanvaar, het hom “verskriklik hartseer” gemaak.

“Die film is ’n rou en eerlike weerspieëling van ’n stukkie van ons land en sy mense waaraan min mense regtig aandag gee. As kykers dit herken en meer begrip ontwikkel vir daardie lewens, het ons baie bereik.”

“Ons is baie opgewonde om ons storie tussen ander wonderlike films en groot name in die bedryf te sien; dis ’n eerste vir ons.”


Fotograwe en dokumentêrefilmmakers wat Van den Berg beïnvloed het, sluit die Britse dokumentêr Nick Broomfield in, wie se narratiewe styl, waarin hy dikwels self ’n rol speel, sigbaar is in die film.

“Die drie mense wat my gehelp het, het elkeen ’n groot bydrae gelewer. Conrad Bornman (ook van Bloemfontein), ons videograaf, het verseker dat die beelde rou en eerlik bly.

“De Wyk Pretorius (van Johannesburg), ons redigeerder, klanktegnikus, en meester van alle ander rolle, het gesorg dat ons gefokus bly en dat die film presies weergee hoe die Karoo lyk en klink.

“Japie Kruger (ook van Bloemfontein), ons klankman en algehele ondersteuner, het mikrofone in woeste winde en vreemde ruimtes hanteer en gesorg dat ons gees hoog bly.”

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.