On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Entertainment

Groot fees in Vaaldriehoek om kultuur en taal te vier

───   KAREN VAN DER BERG 12:01 Mon, 12 May 2025

Groot fees in Vaaldriehoek om kultuur en taal te vier | News Article
Die FAK se Udolpho-kultuurplaas, waar die kultuurfees plaasvind. Die plaas bied interessanthede soos ’n museum en ossewakamp. Foto verskaf

Om ’n brug tussen die hede en verlede te bou, is een van die redes waarom daar deesdae ’n toenemende belangstelling in genealogie is.

Mense wat meer daaroor wil leer, kan Saterdag (17/5) die Kultuur-en-familiefees bywoon op die FAK se Udolpho-kultuurplaas tussen Parys en Sasolburg.

Kobie Ströh, van die Vaaldriehoek Kultuurnetwerk, wat die fees vir die eerste keer vanjaar aanbied, sê hulle is opgewonde oor die vol program. Dit is veral die genealogiesessie wat as ’n hoogtepunt beskou word.

Sy sê die Kultuurnetwerk het ’n paar jaar gelede begin sodat die verskillende kultuuraktiwiteite saamgegooi kan word. “Ons werk almal vir dieselfde doelwit. Die idee is om kultuur in die Vaaldriehoek te bevorder.”


Hulle het besluit om die Kultuurfees te reël om die werk wat hulle doen wyer bekend te stel. “Natuurlik ook om Afrikaans se 100ste bestaansjaar as amptelike taal te vier.”

Dit is die eerste keer wat so ’n fees deur hul netwerk aangebied word. “Die fees gaan nie daaroor om wins te maak nie. Almal doen dit uit hulle eie sak en uit liefde vir die taal en vir ons kultuur.”

Hoewel dit die eerste fees is, bied die kultuurnetwerk reeds jare lank al verskillende aktiwiteite aan. Een van hulle groot gebeure verlede jaar was om skyngevegte tussen die “Boere” en “Kakies” op ’n slagveld aan te bied ter herinnering aan die Anglo-Boereoorlog (1899–1901).

Die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) gaan Saterdag by die fees ’n werksessie aanbied.

Germaine Smith, GGSA-adjunkvoorsitter, wat ook nege jaar voorsitter van die GGSA in die Vaaldriehoek was, sê sprekers gaan oor hulle eie stamboom kom gesels. “Die genootskap gaan ook ’n werksessie aanbied vir mense wat graag meer oor hulle stambome wil leer en self wil begin om navorsing daaroor te doen.”

Sy sê mense moet weet waar om te begin. “Dikwels dink mense hulle kan voor hulle rekenaar gaan sit en dokumente probeer vind. Dit is egter nie waar ’n  mens begin nie. Om te begin, moet jy ’n kwartierstaat opstel. Dit is van vier generasies.

“Dit is jy, jou ouers, hulle ouers en dié se ouers. Dan het jy 16 name om mee te begin. Wanneer jy dit op papier het, kan jy met ander dokumente begin.”


Sy sê die neiging van mense om deesdae hulle DNS te toets om so meer oor hulle genetika of stamboom uit te vind, het beslis die gewildheid van genealogie laat toeneem.

“Die probleem om net jou DNS te toets is dat die steeds nie al die inligting gee van waar mens heeltemal vandaan kom nie. Dit verg speurwerk om jou stamboom na te vors.

“Genealogie is niks anders as speurwerk nie. Dit is om die stories te vind. En lewende familielede op te spoor.”

Smith vertel daar kom interessante stories uit die verlede uit. “Daar is soms diep geheime wat oopgevlek word. Van die vorige geslagte is dikwels met geheime graf toe. Nie alles is noodwendig sleg nie. Ek dink dit is juis die menslikheid van familiegeskiedenis wat dit so interessant maak.

“Ek het self baie interessante dinge oor my familie uitgevind. My oupa was een van twaalf kinders en ek kon vir elkeen van daardie twaalf kinders familielede opspoor. Dit is wonderlik.”

Hoogtepunte op program 

Naomi Keyter het onlangs oorgeneem by Smith as die voorsitter in die Vaaldriehoek.

Ander hoogtepunte op die program vir Saterdag se fees sluit in: musiekprogramme, volkspele, sweepklap, selfverdediging, uitstallings, boeresport en speletjies en vele meer. Toegang beloop R50 per voertuig.

Maak kontak met Ströh by 083 755 4444 vir nog inligting.

OFM Nuus/Karen van der Berg cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.