Entertainment
Geliefde musiekblyspel ‘Carousel’ kom 80 jaar later Bloemfontein toe─── 12:21 Wed, 04 Jun 2025

Die bekroonde musiekblyspel ‘Carousel’ van Rodgers en Hammerstein II se eerste opvoerings in Bloemfontein word van 21 tot 22 Junie in die Wynand Moutonteater op die Kovsiekampus aangebied.
Carousel is vir eerste keer op 19 April 1945 op die planke gebring in Broadway se Majestic Theatre, van waar na dit reeds agt dekades ’n internasionale trefferproduksie is wat selfs in 1956 verfilm is.
Die produksie is deel van ’n internasionale samewerkingsprogram tussen universiteite. Die dryfkrag is die Meadows School of Arts by die Southern Methodist University (SMU) in Dallas, Texas.
Prof. Barbara Hill Moore van SMU en dr. Thys Heydenrych is die musiekregisseurs van die produksie en dr. Albertus Engelbrecht is die assistentmusiekregisseur.
Prof. Anmari van der Westhuizen sal die Odeion School of Music (OSM) se Camerata-orkes dirigeer. Twaalf SMU-studente is sedert 25 Mei saam met prof. Hill Moore op die UV-kampus om saam met studente van die OSM te werk om hierdie besonderse, legendariese produksie op te voer.
Prof. Barbara Hill Moore is sedert 2011 die siel van verskeie produksies en haar inisiatief maak sedertdien wye draaie. Musiekblyspele soos West Side Story met Afrika-invloede (danse, tromme en ritmes) is vir die eerste keer by die Universiteit van KwaZulu-Natal aangebied sowel as South Pacific en Carousel.
Prof. Barbara Hill Moore, regisseur van Carousel, Marius Coetzee, innovasie- en ontwikkelingsbestuurder van die Universiteit van die Vrystaat, en LeAndrew Moore, Moore se eggenoot. Foto verskaf
Nog produksies is by die Nelson Mandela-Universiteit in Gqeberha aangebied soos Wading Home (’n Amerikaanse opera deur Mary Alice Rich), Oklahoma en Ain’t Misbehavin’.
Die teatergeselskap word as deel van die SMU-projek vanjaar ook deur dr. Brad Klein vergesel wat in Bloemfontein ’n module oor menseregte aan studente sal bied as deel van die SMU-program om so akademiese verryking saam met verhoogwerk aan te bied.
Talle eerbewyse
Carousel was die tweede groot musiekblyspel van die komponis Richard Rodgers en die liriekskrywer-librettis Oscar Hammerstein II. Die blyspel beeld ’n aangrypende liefdesverhaal uit met onvergeetlik musiektreffers soos “You’ll never walk alone”, “If I loved you” en “June is bustin’ out all over”.
Dit het onder meer vyf Tonys gewen, asook talle ander eerbewyse, en word deur die tydskrif Time as die beste musiekblyspel van die 20ste een beskryf.
Teatergangers kan hulle gereed maak vir ’n boeiende liefdesverhaal op ’n kusdorpie aan die einde van die 19de eeu waar ’n slingerende, sorgelose karnival-uitroeper verlief raak op ’n meisie wat by die meule werk. Die liefde blom, maar Billy Bigelow verloor sy werk en sy meisie, Julie Jordan, is swanger.
’n Toneel uit Carousel. Foto: Google
Platsak en diep onder die indruk oor die verantwoordelikhede van vaderskap, begin hy om mense te beroof. Hy word gevang, neem sy lewe en word dan “daarheen” gestuur.
Vyftien jaar later word hy toegelaat om terug te keer na die aarde vir ’n dag en ontmoet sy dogter wat hy nooit geken het nie. Sy is eensaam, het nie vriende nie en haar pa se reputasie as ’n dief en boelie pla haar.
Wat daarna gebeur, sal teatergangers kiertsregop van meelewing in die Wynand Mouton-teater moet gaan beleef.
Een van die tydlose liedere uit Carousel wat wêrelwyd gewild is, is, “You’ll never walk alone”. Die lied is oor jare heen internasionaal deur talle sangers, kore en orkeste gesing en opgeneem.
Toegang om Carousel se opvoerings by te woon is gratis. Kleedrepetisies op 19 en 29 Junie om 15:00 en die opvoerings is op 21 Junie om 18:00 en 22 Junie om 14:00.