On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Ashmund
Listen Live Streams

Entertainment

Vrystaat Kunstefees vier visionêre talent van Nico Scheepers

───   08:21 Mon, 09 Jun 2025

Vrystaat Kunstefees vier visionêre talent van Nico Scheepers | News Article
Speelgoed van Glas met Anna-Mart van der Merwe en Carla Smith. Foto verskaf/Vrystaat Kunstefees

Dit is met groot trots dat die Vrystaat Kunstefees vanjaar die kollig laat val op die befaamde Suid-Afrikaanse regisseur en skrywer, Nico Scheepers.

Sy kreatiewe uitnemendheid gaan in verskeie produksies en ’n werksessie ten toon gestel word.

“Ek is baie lief vir die Vrystaat Kunstefees. My produksies ‘Amper, Vrystaat’ en ‘Nêrens, Noord-Kaap’ het beide hier gedebuteer. Die kampus het van die beste teaters in die land, en ek is baie lief vir koue weer,” sê Scheepers oor sy betrokkenheid by die Vrystaat Kunstefees. 

“Ek sien uit om teater te kan maak – en trots dat dit nie net in ons taal oorleef nie, maar floreer. Dit word noodgedwonge aan die lewe gehou deur ’n tipe van ’n kollektiewe onderbewussyn – asof Afrikaanssprekendes in hulle murg weet dít is waar ons taal se voortbestaan natgelei moet word. Dit is die grootste eer.”

Wilhelm van der Walt in “Seun”. Foto verskaf/Vrystaat Kunstefees

Kom deel in die verskeidenheid van Scheepers se betrokkenheid:

• “Die Skrywer se Pen: Skep jou Eerste Toneel” – onder Scheepers se kundige leiding sal jy ontdek hoe dialoog, visuele vertelling en karakterdinamika ’n boeiende rolprent skep.

• “Seun”: Scheepers behartig die regie van die toneelstuk oor Dana Snyman se memoir. Die produksie met akteur, Wilhelm van der Walt, wys niemand is alleen in hulle vrees en verwarring oor ander mense se gedrag nie.

’n Boekbespreking oor die boek, Seun, word ook by die Litfees aangebied. Elzabé Zietsman sal met Dana Snyman in gesprek wees.

• Speelgoed van Glas: In nog ’n boeiende verhoogstuk met Scheepers as regisseur word die weerloosheid en feilbaarheid van ’n familie verken in dié tydlose klassieke verhoogstuk.

Michael Garbett, feesdirekteur, sê om vir Nico Scheepers in soveel verskillende hoedanighede by die fees te hê, is ’n groot eer. “Hy verteenwoordig die hart van wat Suid-Afrikaanse kuns vandag is. Hy is vreesloos, oorspronklik, en diep menslik.”

Verseker nou jou plek en maak gereed vir iets onvergeetliks!

Mediaverklaring


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.