On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Entertainment

Twee gunstelingkunstenaars span kragte saam by Vrystaat Kunstefees

───   14:37 Wed, 11 Jun 2025

Twee gunstelingkunstenaars span kragte saam by Vrystaat Kunstefees | News Article
“Feesgangers gaan beslis iets besonders beleef.” Foto: Vrystaat Kunstefees

Kunsteliefhebbers kan hulle regmaak vir ’n besonderse hoogtepunt tydens vanjaar se Vrystaat Kunstefees, wanneer twee geliefde Suid-Afrikaanse kunstenaars, Chris Vorster en Marion Holm, hul kreatiewe kragte saamspan in ’n unieke feesaanbieding.

Volgens Vorster strek hul werksverhouding oor meer as ’n dekade. “Die meeste keer is haar werk laat, dan vra sy om verskoning en dan gaan ons aan,” skerts hy met ’n glimlag.

Hy behartig reeds vir jare die regie van Holm se produksies. “Sy skryf die wonderlikste tekste en ons skaaf saam totdat ons ’n verhoogproduksie van ware waarde het.”

Vanjaar werk die twee vir die eerste keer ook saam as mede-regisseurs aan Vorster se produksie “Gebou Soos Steffi Graf”.

Chris Vorster

“Ek het so baie karakters in die stuk waarin teatergangers moet glo. Marion is die perfekte buite-oog om my te help om die karakterisering reg te kry,” sê Vorster.

Produksies op die program:

“Gebou Soos Steffi Graf”
Die vroeë 1990’s – ’n sorgelose, dalk naïewe tyd – word herroep in hierdie nostalgiese stuk oor vriendskap, universiteit en die lewenslesse van Wilgehof, Tassies en die Bos. ’n Onthoubare reis na ’n era van jeug en ontdekking.

“Marion Monroe”
In Holm se nuutste eenvrouvertoning vertel sy skreeusnaakse stories vol humor en hart, terwyl sy sin probeer maak van haar identiteit en die wêreld om haar. ’n Heerlike mengelmoes van lag en nadenke.

Marion Holm.

“Lag en Legende”
’n Reis deur die loopbaan van die geliefde Tobie Cronjé – van verhoog tot skerm. ’n Gevoelige en eerlike gesprek oor ’n legende se pad deur die kunste.

“Van Egoli, via 7de Laan tot in Binnelanders”
’n Gesprek oor sepies en hul rol in die skepping van kulturele geskiedenis en sosiale bewustheid in Suid-Afrika.

Michael Garbett, feesdirekteur, sê die samewerking tussen Holm en Vorster is van onskatbare waarde. “Dis ’n viering van ’n jare lange vriendskap, wedersydse respek en ’n gedeelde liefde vir die kunste. Feesgangers gaan beslis iets besonders beleef.”

OFM cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.