On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with OFM
Listen Live Streams

Entertainment

Lag tot jy huil met verskeidenheid komedies by Vrystaat Kunstefees

───   07:00 Fri, 13 Jun 2025

Lag tot jy huil met verskeidenheid komedies by Vrystaat Kunstefees | News Article
Hannes van Wyk en Desiré Gardner is so te sê volksbesit. Foto: Vrystaat Kunstefees

Oefen solank jou lagspiere. Vanjaar bring die Vrystaat Kunstefees ’n verskeidenheid van humor en ’n skouspel van komedie.

Met die aanbod wat wissel van gevestigde gunstelinge tot vars, jong stemme, is daar iets vir elke smaak. Dit is slim. Dit is snaaks. Dis net wat ons almal nou nodig het.

‘Magda en haar Erhard, how Louw can you go’

Hannes van Wyk en Desiré Gardner, is so te sê volksbesit met hul uiters gewilde Magda Louw-vertonings. Vanjaar se, Magda en haar Erhard, how Louw can you go, beloof om soos altyd die gehoor op hulle voete te hê.

Hannes sê hy dink die rede vir die gewildheid van die reeks is omdat mense hulle met die twee karakters kan vereenselwig. “Mense herken hulself in die karakters. Dit is nie uitsluitlik die humor nie, maar ook die waarhede wat hulle kwyt raak.” 

Hy sê daar is heelwat geheime wat oor Magda en Erhard uitgelap gaan word …

Wynand Kotze, Vanrhynsdorp se voormalige hoofseun, is nou die fopdosser Tollie Parton. Foto: Vrystaat Kunstefees

‘Keelvol’

Die Vrystaat Kunstefees het vir hulle ’n besonderse plek in hul harte. Die mense se ondersteuning in Bloemfontein is altyd vir hulle ongelooflik, sê hy.

In nog ’n komedie beloof Keelvol om ’n unieke teaterevaring te bied. Germandt Geldenhuys en Je-ani Swiegelaar (bekend vir hulle rolle as Louis en Naomi Koster in Binnelanders), is vir die eerste keer saam op die verhoog in Bloemfontein. 

Die bittersoet vertoning beloof om gehore se traankliere, lagspiere en harte aan te raak. 

Germandt Geldenhuys en Je-ani Swiegelaar. Foto: Vrystaat Kunstefees

Je-ani was nog nooit vantevore in die Rosestad nie en sê sy sien veral baie uit om die befaamde gasvryheid van die Vrystaatse mense te ervaar. Germandt sê Keelvol is iets anders, maar hulle is baie opgewonde om dit na die verhoog hier te bring.

‘Tollie Parton: Hoofseun’

Vir dié wat bietjie buite die boks en aweregs wil lag, is Tollie Parton: Hoofseun, ’n vertoning wat gekyk móét word.

Dié is ’n hoogs aansteeklike, semi-aanstootlike kykie na wat dit werklik beteken om ’n klein Afrikaanse dorpie se verwagtinge te swaai. Wynand Kotze, Vanrhynsdorp se voormalige hoofseun, is nou die fopdosser Tollie Parton.

Hoe het dit gebeur? En die grootste vraag van almal: Hoekom bly mense dink sy is Casper de Vries met (groter) pramme?

‘Program is saamgestel vir mense wat hou van iets met meer om die lyf’

Michael Garbett, feesdirekteur, sê die program is saamgestel vir mense wat hou van iets met meer om die lyf. Ook vir dié wat net wil ontspan en lekker lag. 

“Met ons komedieprogram ontmoet wysheid en waagmoed mekaar. Humor is iets wat mense verbind en herinner om werklik te leef.”

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.