On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Entertainment

Vrystaat Kunstefees: Sterbelaaide, diverse musiekprogram om na uit te sien

───   10:00 Mon, 16 Jun 2025

Vrystaat Kunstefees: Sterbelaaide, diverse musiekprogram om na uit te sien | News Article
Die produksie is gegrond op die werklike, ontroerende briefwisseling tussen Vincent en sy broer Theo van Gogh. Foto: Vrystaat Kunstefees

Die verhoog is gereed, die kunstenaars is ingeoefen en die Vrystaat Kunstefees 2025 beloof om ’n baie besonderse musiekervaring aan feesgangers te bied.

Musiekliefhebbers van alle ouderdomme en voorkeure kan uitsien na ’n uitmuntende en uiteenlopende program wat van Suid-Afrika se grootste en mees geliefde kunstenaars insluit. 

Van legendes wat reeds dekades lank op die verhoog is tot vars, opwindende nuwe stemme – vanjaar se musiekaanbiedinge vier die volle spektrum van Suid-Afrikaanse musiek.

Amanda Strydom. Foto: Vrystaat Kunstefees

Hoogtepunte van die program sluit in:

‘The Incredible Journey of Tinkerbell van Tonder’

Amanda Strydom bring haar bekroonde produksie, oorspronklik geskryf in 1995, na die Vrystaatfees. The Incredible Journey of Tinkerbell van Tonder is in 2024 met die Woordtrofee vir beste musiekteater by die Toyota US Woordfees bekroon en is ook vir ’n Kanna-toekenning by die KKNK benoem.

“Dit is ’n storie uit ons grond – van soeke na ’n komvandaan, van ’n bruin kind wat soos ’n brief van een plek na ’n ander gepos word,” sê Strydom. Sy word begelei deur haar langtermyn-pianis, die oud-Bloemfonteiner Coenraad Rall, wat die musiek meesterlik verwerk het.

“Die Vrystaat Kunstefees is vir my die hoogtepunt van elke jaar se winter. Ons hoop om die koue te verdryf en harte te verwarm met hierdie moderne feëverhaal,” voeg sy by.

Lize Beekman. Foto: Vrystaat Kunstefees

Lize Beekman

Die geliefde, deurwinterde sangeres Lize Beekman keer terug met haar kenmerkende diepgang en sielsvolle klank. Sy begelei haarself op klavier en kitaar, en haar vertoning beloof ’n intieme, roerende ervaring met lirieke wat diep tref.

‘Vincent – His Quest to Love and be Loved’

Hierdie kragtige musiekteaterstuk bied ’n unieke kyk na die innerlike wêreld van een van geskiedenis se mees fascinerende figure: Vincent van Gogh. Die 80-minute produksie word vertolk deur slegs een akteur en ’n pianis, en is gegrond op die werklike, ontroerende briefwisseling tussen Vincent en sy broer Theo van Gogh.

Die produksie ondersoek Van Gogh se intense soeke na sin, liefde, skoonheid en verbondenheid. Bekende liedjies is slim verweef in die narratief en gee nuwe lewe aan die kunstenaar se emosionele landskap. 

Dié produksie is nie net ’n biografiese blik nie, maar ’n diepgaande, musikale reis deur die gees van ’n kunstenaar wat alles gegee het om werklik te sien – en gesien te word.


’n Fees vir Almal

“Ons wou seker maak daar is iets vir elkeen – van nostalgie en meesterlike vakmanskap tot nuwe ontdekkings en verrassings,” sê Michael Garbett, feesdirekteur. “Hierdie program wys regtig hoe ryk en uiteenlopend ons musiektoneel is.”

Met só ’n veelvlakkige en emosioneel ryk program, is dit duidelik dat die Vrystaat Kunstefees 2025 weer sy plek gaan bevestig as een van die land se mees verwagte en geliefde kunstefeeste.

OFM cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.