Entertainment
Sossi bring sass by Blêrkas─── ELZETTE BOUCHER 15:52 Thu, 17 Jul 2025

Die legendariese Blêrkas-verhoog lewer weer groot vermaak op vanjaar se Vrystaat Kunstefees en een van Bloemfontein se eie is terug op haar tuisgrond – om dit aan die brand te sing.
Die talentvolle sanger en TikTok-ster Sossi – oftewel Augusta Zietsman – het kom kuier op OFM se blou bank in die Odeon-foyer op die Bloemfonteinkampus van die Vrystaat Universiteit.
“Ek sê altyd, ek sing nie en ek rap nie, ek praat,” lag sy. Sossi se aansteeklike ritmes en eerlike lirieke het haar al ’n stewige aanhang op sosiale media besorg. Sy bring nie net klank en sass na die verhoog nie – sy bring ’n lewensfilosofie wat sê: leef voluit, dans altyd, en spreek jou waarheid.
Oorspronklik van Kathu en op hoërskool Eunice in Bloemfontein, ag Sossi die Vrystaat Kunstefees as “home ground”. “Dis my gunsteling van al die kunstefeeste – hier het alles begin.”
Sy vertel hoe sy as Augusta Zietsman haar loopbaan begin het, maar uiteindelik teruggekeer het na haar kinderbynaam, Sossi. “Die musiek wat ek nou maak is lig en speels, en dit voel net reg om dit as Sossi te doen.”
“Ek maak net musiek waarvan ek hou. As iemand anders daarvan hou, is ek altyd bietjie verbaas en baie dankbaar.”
Dans speel ’n groot rol in haar lewe, iets wat sy verbind aan kosbare herinneringe saam met haar ma en oorlede ouma. “Ons weet nooit wanneer die laaste dans is nie. Dis hoekom ek elke geleentheid gebruik om te dans – en ander saam te laat dans.”
Op die vraag waarmee sy tans besig is, antwoord sy opgewonde: “Op 1 Augustus bring ek ’n nuwe liedjie uit – Eendag. Dis Gabber-style, hardstyle electro met ’n kinderrympie-kinkel. Dalk bietjie vreemd, maar dis bedoel vir spring en speel – selfs as jy ’n grootmens is.”
- Sossi tree Vrydagaand om 20:00 op by die Blêrkas, net voor Van Pletzen.
OFM is ’n trotse mediaborg van die Vrystaat Kunstefees.
OFM cg