Entertainment
Zoid bring vuur en passie na openingsaand op Vrystaat Kunstefees─── 08:00 Wed, 16 Jul 2025

Op ’n koue wintersaand in Bloemfontein kon die temperatuur dalk so effens onverwags gestyg het met ’n kragtige Karen Zoid-vertoning.
OFM was die trotste mediaborg van die byna volgepakte vertoning. Shandor Potgieter en Margaret Whitfield van The Goodmorning Breakfast-span het die verrigtinge begin. Whitfield het geskerts dat een van Zoid se eerste vertonings jare gelede haar “meer Afrikaans as Engels” gemaak het.
Zoid het die openingsaand van die 25ste Vrystaat Kunstefees op Dinsdag (14/7) met haar kenmerkende stem oorheers en die gehoor op hul voete gehad. Vir die meeste van haar aanhangers is haar musiek ’n persoonlike reis soos hulle ook die afgelope meer as twee dekades saam met haar “grootgeword” het. Dit was duidelik met die sing van haar groot jarelange treffer, “Afrikaners is plesierig”.
Zoid se krag as rockkoningin lê in haar energie en haar vermoë om uiteenlopende genres moeiteloos te integreer. Sy hou ook daarvan om te improviseer en het met humor en baie begrip haar interaksie met die gehoor boeiend gehou.
Emile Swiegers, op kitaar en stem, wat al langer as ’n dekade naam gemaak het op die alternatiewe Afrikaanse musiektoneel, het ’n paar liedjies saam met Zoid uitgevoer. En hy mag maar! Hulle het ook vir die eerste keer hul liedjie “Dit is moeilik om ’n mens te wees” voor ’n gehoor gesing.
Tussen die liedjies deur het Zoid stories vertel, haarself soms vermaan dat sy te veel praat, en lig gewerp op die temas wat haar musiek aanvuur: liefde, waarhede oor wat werklik in die lewe saak maak. Zoid het beklemtoon dat mense uiteindelik net mekaar het. Sy het haar wense vir die gehoor verwoord in die lirieke van haar lied “As musiek begin speel”: “En soek vir die reënboog langs die pad, my skat.”
Haar optrede was meer as net ’n konsert; dit was ’n belewenis en ’n musikale vertelling wat die gehoor diep geraak het. Sy het vooraf gesê sy gaan die konsert laat tel, en sy het.