Entertainment
Vier orreliste deel van pyporrelviering in Bethlehem─── SUSAN MARÉ 14:25 Fri, 19 Sep 2025

Vier Vrystaatse orreliste is genooi om deel te neem aan die NG kerk Bethlehem-Panorama se Orrelfees Sondag 28 September met die tema “Die koning van instrumente huldig die Koning van die eeue”.
Die soliste in die konsert, wat om 12:00 begin, is Ansie Naudé van Clocolan, Louri Coetzee van Bloemfontein, Connie van Niekerk van Bethlehem en Theunis Marais van Reitz. Hulle is in die Vrystaatse gemeenskappe waar hulle woon, bekend as orreliste met besonderse vaardighede en toewyding aan kerkmusiek van gehalte en veral lojaal aan die pyporrel.
Die pyporrel is in Suid-Afrika nog helderklinkend in baie kerke ten spyte van velerlei veranderings. Die snelle ontwikkeling van die moderne klankwetenskap en -tegnologie, die verskraling van musiekopleiding, veral op die platteland, verskillende musieksmake, eietydse aanbiddingstyle in kerkmusiek en vele ander faktore werk oënskynlik teen die pyporrel as instrument.
Ansie Naudé van Clocolan. Foto verskaf
Tog staan die orrel vas soos die Rots van Gibraltar in die Middellandse see. As een van die heel oudste instrumente is die orrel steeds relevant. Dit is die kragtigste solo- en begeleidingsinstrument met ’n veelsydige samestelling van klankmoontlikhede.
Dit verg besonderse vernuf en opleiding om die orrel te kan bespeel. Die orrel kan selfs sonder klankversterkers, moderne luidsprekers en dreunende tromme sy man kan staan.
Dit is veral ’n uitmuntende akoesties-ryke solo-instrument. Panorama se kerk beskik oor altesaam 1 589 orrelpype en is deur prof. J.J.K. Kloppers ontwerp wat aan die departement van musiek aan die Universiteit van die Vrystaat verbonde was.
Die orrelbouers was Cooper, Gill en Tomkins. Onder leiding van ds. Gideon Lamprecht van die gemeente word gereelde musiekuitvoerings aangebied, veral in Kers- en Paastyd.
Die belangrikheid van orrelfeeste soos dié word ook beklemtoon deur Erna Rademan, voormalige voorsitter van die Suider-Afrikaanse Kerk- en Konsertorrelistevereniging (Sakov) in die Vrystaat en orrelis van die NG kerk Vredefort. Sy bied gereeld konserte aan om gehalte kerkmusiek te bevorder.
“As ’n mens deur Suid-Afrika se platteland ry – oor die heuwels en oop vlaktes – staan daar in elke dorpie ’n kerk met ’n pyporrel. Hierdie instrumente is nie sommer net musiekmakers nie; dit is deel van ons mense se storie.
Die NG kerk Bethlehem-Panorama. Foto verskaf
“Ons voorouers het geswoeg en gesweet om te sorg dat orrels aangekoop kon word, want vir hulle was die aanbidding van God Almagtig met waardige musiek iets heiligs. Die orrel het deel geword van die Afrikaners se geloofstradisies en dorpslewe.
“Dekades later speel pyporrels weer ’n nuwe rol. In dorpe waar konserte selde plaasvind, bring die klank van die orrel mense bymekaar vir musiek en die gemeenskap. Die konserte herinner ons dat die erfenis van ons voorgeslagte steeds lewend is, dat dit mense steeds inspireer en verryk.
Vul ruimte en harte
“Daar is iets byna magies aan hoe die orrel in die landelike kerk weerklink, die ruimte vul, harte roer, en dit laat jou besef hoe mooi ons musiekerfenis is.”
Van die werke wat in die konsertuur op 28 September in Bethlehem gehoor kan word is van J.S. Bach, F. Mendelssohn, J.A. Lefébure-Wély, L. Bourgeois, G.F. Händel en verskeie ander.
Daar is ook verwerkings van korale (liedere) uit die Afrikaanse en Europese musiekerfenis. Konsertgangers sal genooi word om drie liedere saam te sing onder leiding van Ansie Naudé.