On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Entertainment

Wêreldboekedag: Lees bly belangrik in veranderende wêreld

───   SUSAN MARÉ 15:35 Thu, 23 Apr 2026

Wêreldboekedag: Lees bly belangrik in veranderende wêreld | News Article
Lees is ’n kritieke grondslag vir geletterdheid, Foto ter illustrasie.

’n Suid-Afrikaanse boekekenner glo in ’n vinnig veranderende wêreld sal die vermoë om inligting te verstaan en daaroor na te dink altyd belangrik bly, en dit begin met lees.

Met Wêreldboekedag wat op Donderdag (23/4) in Suid-Afrika gevier word, word die aandag gevestig op die belangrikheid van lees. Yolandi Farham, produkdirekteur vir Afrika by Oxford University Press Southern Africa, sê selfs in die digitale eeu bly die druk en lees van boeke lewensbelangrik.

Sy is verantwoordelik vir die strategiese ontwikkeling en lewering van gedrukte en digitalepublikasie-produkte oor verskeie Afrikastreke, en het langer as ’n dekade se ervaring in opvoedkundige publikasies. Sy ontwikkel leerplanmateriaal vir laer- en hoërskole sowel as hoër onderwys.

Lees is ’n kritieke grondslag vir geletterdheid; daarsonder het leerders ’n agterstand, sê Farham. “Die klem moet egter val op oplossings en om te vereker dat lees deurlopend en vroeg genoeg ondersteun word om ’n betekenisvolle verskil te maak.”  

Waar het jou belangstelling in boeke begin?

My liefde vir lees en boeke het by my ouma begin. Van my vroegste herinneringe is hoe sy vir my Beatrix Potter lees en natuurlik het ek grootgeword in ’n huis waar my ma ook ’n ywerige leser was.

Ek het altyd geweet ek wil met boeke of publikasies werk. Ek was die grootste deel van my loopbaan betrokke by onderwys en die uitgee van opvoedkundige publikasies, met die klem op hoe ons leerlinge oor Suid-Afrika en Afrika heen ondersteun.

Yolandi Farham. Foto: Verskaf

My belangstelling in boeke is nog altyd gewortel in moontlikheid – die moontlikheid om kennis te bou, te verbeel en eindelik ekonomies en maatskaplik aan die wêreld deel te neem. Boeke en lees is vir my sinoniem met stories en die stories wat ons verbind. Dit verbind mense oor kulture en geslagte heen, kweek nuuskierigheid, verbind kulture en bou denke.

Hoekom dink jy lees kinders minder as voorheen?

Dit is nie noodwendig dat kinders minder lees nie. Hulle lees anders. Wanneer ons kyk na hoeveel kinders lees, bly toegang ’n probleem. Ongeveer ’n kwart van Suid-Afrikaanse huishoudings het geen boeke in die huis nie. Nog ’n faktor is die invloed van die digitale ekostelsel op lees. Kinders kyk meer video’s eerder as om boeke te lees.


Die werklike bekommernis is egter of hulle sterk lees- en begripsvaardighede ontwikkel. In Suid-Afrika sukkel baie leerlinge vroeg reeds met basiese leesvaardighede, en as daardie gaping nie in die grondslagfase (gr. R tot 3) oorbrug word nie, word dit ál moeiliker om in te haal. Daarom is blootstelling aan boeke op skool en tuis so belangrik.

Wat is die voordele van lees vir kinders?

Lees ondersteun veel meer as net taalontwikkeling. Dit bevorder begrip, kritiese denke, konsentrasie en selfvertroue. Dit beïnvloed ook prestasie in alle vakke, want elke vak vereis dat leerders lees, interpreteer en inligting toepas. Sterk leesvaardighede in die vroeë jare is een van die duidelikste aanduiders van akademiese sukses op lang termyn.

Doen skole in Suid-Afrika genoeg om lees te bevorder?

Heelparty skole en die departement van basiese onderwys is toegewy daaraan om leesuitkomste te verbeter, veral in die laer grade. ’n Kombinasie van gestruktureerde leesprogramme, toegang tot gehaltemateriaal en deurlopende ondersteuning vir onderwysers lei tot vordering. 

Vennootskappe tussen skole, uitgewers en projekte soos die Road to Literacy-veldtog saam met Avbob speel ’n belangrike rol om hierdie ondersteuning te versterk.

Niene en Roelof Prinsloo is lief vir lees. Foto verskaf

As ek die veldtog Road to Literacy as voorbeeld kan gebruik – ons skenk mobiele leesbiblioteke aan onderbediende skole landwyd, met 2 000 biblioteke wat vanjaar geskenk word. 

Hierdie biblioteke bevat boeke in verskeie tale en bied broodnodige toegang tot goeie leesmateriaal oor verskillende belangstellings om ’n liefde vir lees te kweek.

Voldoen biblioteke steeds aan kinders se behoeftes?

Dis baie goed dat sowat 60% van Suid-Afrikaners toegang tot plaaslike biblioteke het. Kyk ons egter na die statistieke besoek slegs sowat 30% van hulle ’n biblioteek, en nog minder neem boeke uit. As ons in ag neem baie huishoudings het nie boeke by die huis nie, kan goed toegeruste biblioteke dié gaping help oorbrug.

Ons sien ook die belangrikheid daarvan om boeke tot in gemeenskappe te neem deur skole en geletterdheidsprojekte. Die fokus moet wees om te verseker kinders het gereelde toegang tot leesmateriaal.

Hoe vergelyk digitale lees met gedrukte boeke?

Digitale hulpmiddels brei toegang uit en ondersteun leer. Dit werk egter die heel beste as dit op streng basiese leesvaardighede voortbou.

Navorsing toon die lees van gedrukte boeke lei tot beter leesbegrip en meer betekenisvolle leeruitkomste vergeleke met digitale lees.

Roelof Prinsloo van Centurion lees baie graag. Foto verskaf

In ’n meta-analise van 49 studies in 2024 is bevind studente wat op papier lees, presteer deurlopend beter in begripstoetse as dié wat dieselfde materiaal op skerms gelees het. Hulle moenie meeding nie, maar albei moet doeltreffend gebruik word.

Is die prys van boeke ’n struikelblok vir lees?

Koste kan vir baie gesinne ’n struikelblok wees; daarom is toegangsprojekte en biblioteke so belangrik. Kinders behoort nie net op die besit van boeke staat te maak om ’n leesgewoonte te ontwikkel nie. 

Programme soos Road to Literacy wil boeke in leerlinge se hande kry en leesontwikkeling vroeg ondersteun.

Wat is jou raad aan ouers en aan onderwysers?

Die beste wat jy kan doen, is om van ’n jong ouderdom af vir jou kinders te lees en saam met hulle te lees, en om ’n voorbeeld van goeie leesgewoontes te wees. Konsekwentheid is belangriker as enigiets anders. Selfs 10 tot 15 minute se lees per dag kan ’n verskil maak.

Wanneer kinders lees met iets positiefs assosieer, is hulle meer geneig om ’n blywende gewoonte aan te leer. Kies ook onderwerpe waarin jou kinders belangstel en laat hulle dit lees. As jou kind van sokker hou, soek sokker-tema boeke in die biblioteek en maak die ervaring lekker en pret.

Onderwysers speel ’n ongelooflik belangrike rol in die ontwikkeling van ons kinders. Ek sal aanbeveel dat hulle daaglikse lees aanmoedig, leerlinge aan uiteenlopende tekste blootstel en ruimte skep om hulle by stories te betrek. Om seker te maak hulle verstaan wat hulle lees is net so belangrik as om hulle te leer hoe om te lees.

Hoekom is Wêreldboekedag belangrik?

Dit herinner ons aan die belangrikheid van boeke in die vorming van leer en geleenthede. Dit skep ook ’n geleentheid om geletterdheidsuitdagings te identifiseer en om praktiese oplossings te beklemtoon wat kan help om dit die hoof te bied.

Jou boodskap aan OFM-lesers en -luisteraars?

Hou aan lees, hou aan om nuwe idees te verken en verloor jouself in die stories van die kulture van Suid-Afrika en daarbuite. Lees maak die deur oop na nuwe moontlikhede en werklikhede waarvan jy nooit gedroom het nie.

OFM Nuus/Susan Maré sm dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.