Entertainment
Die jeug kan ook nader staan vir ’n opwindende Vrystaatse Kunstefees─── SUSAN MARÉ 10:12 Fri, 19 Jun 2026
Vir leerders wat nou nog gewikkel is in ’n eksamenstryd in koue skoolsale of klaskamers is die opwindende Vrystaatse Kunstefees om die draai.
Die fees van 7 tot 11 Julie op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat is ’n alternatief vir almal wat moeg geleer is en warmte in die wintervakansie nodig het. Dit beloof doef-doef en ander musiek, kunstenaars uit alle uithoeke van die land, stalletjies, eet- en drinkgoed en volop pret.
Hoekom heeldag by die huis sit, ’n gevangene van jou selfoon, die televisie en die sosiale media as jy heeldag by ’n kunstefees kan gaan rondhang? Die feesorganiseerders sê die wêreld word ál meer digitaal. Die vraag is watter ervarings ons vir die volgende geslag kan skep.
Is die jeug so aan skerms vasgegom aan die sosiale media en KI wat hul lewens regeer dat ’n kunstefees in hul tuisstad by hulle verbygaan? Die bekroonde jeugskrywer Jaco Jacobs van Bloemfontein wat vanjaar sy kwarteeu in die jeugboekbedryf vier, self die pa van twee tieners, het baie om oor die waarde van kunstefeeste te sê.
“Kunstefeeste is ’n fantastiese geleentheid om kinders aan die teater, musiek en ander kunsvorme bekend te stel. Dis ook ’n kans om hul oë van skerms weg te kry en hulle weer ’n bietjie in die regte wêreld te laat leef.

“Die kunstefees in Bloemfontein is die ideale geleentheid om tyd saam as gesin deur te bring en die stalletjies, kos, gesprekke en vertonings saam te geniet. ’n Kunstefees is regte, egte pret en sosiale belewing – met niks daarvan kunsmatig nie.
Jaco waarsku teen die gevaar dat jongmense te veel tyd aan kreatiewe prosesse aan tegnologie afstaan. Een van die werkswinkels by vanjaar se fees fokus juis op kreatiewe skryfwerk vir kinders.
“Skryf gaan oor meer as skoolpunte en werkstukke. Dit gaan daaroor om jouself te leer verstaan, jouself te leer uitdruk, jou taal en talente te slyp, en met woorde jou stempel op die wêreld af te druk.”
Hoewel Jaco self met KI eksperimenteer en die moontlikhede daarvan ondersoek, glo hy dit moet net ’n hulpmiddel bly. Dit kan nooit ’n plaasvervanger vir menslike kreatiwiteit wees nie.
“Moet nooit dat KI jou skeppende proses kortpaaie laat neem nie. Jou kreatiwiteit, jou vermoë om te skep, jou menings en jou talente is die dinge wat jou in die toekoms laat uitstaan bo die eenvormige, grys KI-geskepte massas. “Koester dit en slyp dit.”
Michael Garbett, feesdirekteur, sê kunstefeeste dien as ’n belangrike herinnering dat jong mense meer nodig het as inhoud om te verbruik. “Hulle het stories nodig om te beleef, kunstenaars om te ontmoet, gesprekke om deel van te wees en ervaring wat hulle inspireer om self te droom, te skep en hul eie stemme te ontdek.
“Want uiteindelik is die kunste nie net vermaak nie. Dit help om die volgende geslag se verbeelding, menslikheid en kreatiwiteit te vorm.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

