Entertainment
Digkuns, liefde vir Afrikaans inspireer koffietafelboeke─── SUSAN MARÉ 11:48 Wed, 29 Jul 2026
Twee digters wie se kreatiewe gedigte en skryfwerk gereeld op die Ink Skryf in Afrikaans- en ander aanlynplatforms gelees kan word, werk nou saam om koffietafelboeke die lig te laat sien.
Pieter Mostert van Centurion en Coenie Horak van Bethlehem is albei bekroonde digters met ’n besonderse liefde vir Afrikaans. Die koffietafelboeke is die inisiatief van Mostert, waarin hy Horak se gedigte as kreatiewe aanvulling tot die onderskeie temas insluit.
Roofvoëls deur die oë van digters en die twee boeke in die Gevleuelde Digters-reeks is deur Mostert nagevors en gepubliseer om ’n welkome andersheid en menslike belewenis te bied.
As digter, skrywer, selfuitgewer en fotograaf het Mostert reeds 13 bundels gepubliseer. Sy mikpunt met sy kreatiewe skryfwerk is om mense te laat stilstaan en anders laat kyk om die lewe met groter verwondering te beleef.
“My boeke wil die leser herinner aan dit wat ons so maklik miskyk: Die skoonheid van God se skepping, die waarde van elke mens, die krag van woorde en die hoop wat ons in God vind.
“Of ek oor die Kalahari skryf, oor roofvoëls, liefde, die lewe van Jesus, die mens se gedagtes of selfs oor kunsmatige intelligensie, keer ek telkens terug na dieselfde waarheid.
“Die mens is geskape om in verwondering te leef en in ’n lewende verhouding met sy Skepper te staan. Woorde het die vermoë om harte aan te raak, perspektiewe te verander en geloof te versterk.”

Coenie Horak van Bethlehem. Foto verskaf
Mostert en Horak neem deel aan die projekkompetisies of skryfgeleenthede wat Ink en ander platforms vir alle Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika bied.
In 2022 is Mostert se gedig, God dig die natuur, by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl uitgestal. Hy het sedert 2023 verskeie eerbewyse van Ink ontvang, onder meer as 2025 se Artikelskrywer van die Jaar.

Horak, wat by die Bethlehem Tutorsentrum werk, het homself gevestig as ’n digter van formaat.
Twee koffietafelboeke waaraan Mostert nou werk, is Die Skepping deur die oë van die digter en Waarom het God vir ons emosies gegee? Horak is mede-digter van dié boeke. Twee boeke wat reeds voltooi is, is Roofvoëls deur die oë van Digters en God, Mens en Masjien.
Mostert is in Johannesburg gebore, het op ’n myndorpie in Noordwes groot geword en is getroud met Kotie. Hy het ná skool teologie gestudeer aan die Universiteit van Pretoria. Sy liefde vir Afrikaans kom van sy kinderjare en is deur sy ma by hom gekweek.

“Ek het van kindsbeen begin om met passie metaforiese gedagtes uit die goudmyn van ons taal te ontgin, en met nuutskeppings ’n unieke digstyl te ontdek wat ryk en divers is, en eer doen aan my moedertaal.”
Oor waarom hy dink daar so baie mense is wat dig en aangetrokke voel tot gedigte, sê hy: “Ek het al self gewonder of die wêreld nog digters nodig het. Tog, in ’n tydsgees waar tegnologie blitsvinnig ontwikkel en kunsmatige intelligensie binne sekondes duisende woorde kan voortbring, het poësie steeds nie sy plek verloor nie.
‘Digters hoor die stilte tussen woorde’
“Ek dink poësie staan sterker as ooit. ’n Rekenaar kan inligting versamel en sinne bou, maar slegs ’n mens kan met verwondering en emosie na ’n sonsopkoms kyk, die geur van reën op droë grond inasem, of stil word wanneer die Melkweg oor die Kalahari strek.
“Digters is mense wat anders kyk. Hulle kyk nie net met die oë nie. Hulle hoor die stilte tussen woorde, sien die lig wat op ’n blaar dans en ontdek betekenis waar ander bloot verbyloop.
“Poësie is een van die maniere waarom die mens sy menswees uitleef. Ek dig omdat God my geleer het om raak te kyk en die talent wat Hy vir my gegee het tot sy eer te gebruik.
“Ek dig ook omdat ek mense stadiger wil laat leef. Ons jaag so deur die lewe dat ons die wonderwerke langs die pad miskyk. Ek dig omdat die skepping elke dag met my praat en ek my my hele lewe lank daaraan sal verwonder.”
Voornemende of aktiewe digters en skrywers kan Ink Skryf in Afrikaans se webwerf besoek vir kreatiewe geleenhede. Die stigter van Ink is Anzé Bezuidenhout.
Vir meer inligting oor Mostert se publikasies, kontak hom by 083 292 5858.
OFM Nuus/Susan Maré cvdw
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

