Entertainment
Clarens gaan dié Erfenis-naweek behoorlik skitter─── SUSAN MARÉ 16:35 Wed, 16 Sep 2026
Clarens gaan hierdie Erfenis-langnaweek (24-26 September) in ’n skouspel van lig, musiek en kreatiwiteit verander wanneer die dorp se eerste Festival of Lights gehou word.
Met Refleksies as feestema is daar meer as 20 betaalde én gratis ervarings oor drie dae en nagte: In die dorpsentrum, in die Clarens-bewarea, by die NG kerk, en in die buurdorp Kgubetswana.
Die fees begin op Erfenisdag (24/9) met ’n openingseremonie – ’n aftelling, ’n lanternparade met lanterns wat in gemeenskapswerkwinkels gemaak is en die groot oomblik wanneer Clarens se liggies aangeskakel word. Bywoning is gratis.
Die Clarens-dorpsplein word die Square of Lights en die hart van die fees met grootskaalse liginstallasies, markte, musiek en die daaglikse Spotlight Sessions, gesprekke oor die toekoms van landelike Suid-Afrika, insluiting en die krag van kreatiwiteit. Op die hoofverhoog, in vennootskap met WOMAD Sub-Saharan Africa, reis internasionale kunstenaars van die WOMAD South Africa-program spesiaal na Clarens vir die hoofkonsert.
Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Jannie du Toit sluit op die openingsaand as deelnemende kunstenaar by die fees aan. Sy musiekvertoning, Bonjour Monsieur Brel, is op Vrydag (25/9) in die NG kerk Clarens. Een van talle ervarings is dat die NG kerk elke aand verlig en gratis besoek kan word.
Vir stappers is daar die Immersive Forest Light Tour deur die Clarens-bewarea. Die roete is rolstoelvriendelik. ’n Sterrekyktoer en ’n Ride the Light in die nag op LED-verligte fietse tussen Clarens-dorp en Kgubetswana sal fietsryers interesseer. An Ocean in One Drop is ’n geleentheid vir die verbeeldingrykes om te sien hoe verligte ligdruppels op water dryf. Daar is ook die Battle of the DJs, Campfire Stories, Clarens Cinema, nagwandelings en daaglikse dinosourus-ekspedisies.
Selfs sokker kom in die kollig by die Kgubetswana-gemeenskapstadion waar die eindstryd van die CFoL se Cup-sokkertoernooi gloeiend-in-die-donker gaan plaasvind.

’n Lanternparade gaan tydens die opening gehou word. Foto verskaf
Die Liggiefees as splinternuwe inisiatief in dié toerismedorp van die Oos-Vrystaat fokus ook op ekonomiese volhoubaarheid soos werkskepping, deelname oor kulture heen in ligkuns, musiek, kuns en ander aktiwiteite. Die fees is daarop gerig om die hele gemeenskap tot deelname te inspireer.
Die fokus is veral op kinders met aktiwiteite soos skilder- en lanternwerkwinkels en op Saterdag (26/9) die Glowing Fossils by die Adventure Square. Die kinders se gasheer is die plaaslike geoloog dr. Gideon Groenewald wat vir hulle ’n skitterende vertoning van fossiele en minerale wat onder ultravioletligstrale (UV) gloei, gaan aanbied. Nog ’n besonderse ervaring is om in die volmaan die naglewe van paddas, uile, vlermuise en nagmuise te ontdek.
Musiekkunstenaars speel ’n onmisbare rol in die Liggiefees. Benewens Jannie du Toit is daar ook Josh Mokoena, ’n talentvolle jazz-pianis wat oorspronklik van Clarens is. Hy het aan die Universiteit van die Witwatersrand gegradueer en is bekend vir sy eiesoortige styl wat tegniese uitnemendheid met sielvolle improvisasie vermeng.
Kate Rok, plaaslike sanger en liedjieskrywer, bekend vir haar akoestiese klanke, en Lily & Bear, ’n musikale duo van Clarens, gaan ook optree. Ander musikante op die program is Lawrence, Rudo Schwim, Elvis Mokoena en Francois Pieneman (een van die stigterslede van die fees) en DJ Slayer (Battle of the DJ’s en Silent Disco).
Skilders, lig- en visuele kunstenaars by die Liggiefees sluit in Sam Nhlengethwa (wêreldwyd bekend as visuele kunstenaar), Kara Schoeman (veelsydig en betrokke by lig-installasies en werksessies), Lefa & Thembela Mantunwa (plaaslike lig- en visuele kunstenaars) en Mandy Johnson (unieke ligkunstenaar).
Jacquie le Roux, argitek, stigterslid en direkteur van die Liggiefees, sê die fees is van besonderse betekenis vir Clarens. Dit is uniek in, deur en van Clarens en die hele gemeenskap is betrokke. “Behalwe dat dit plaaslik ’n ekonomiese inspuiting en opheffing is, gaan die fees ook baie beteken vir die dorp se toerisme. Ons hoop dat mense uit verskillende provinsies die fees sal kom bywoon en geniet.

Die NG kerk Clarens gaan verlig wees en kan elke dag gratis besoek word. Foto verskaf
“Ek en my kollegas Francois Pieneman en Rogier Bleys, en lede van die bestuurskomitee is werklik opgewonde. Die fees gaan oor gemeenskapsopheffing van die mense van Clarens en Kgubetswana onder die vlerk van WorldVisuals South Africa, ons nie-winsgewende organisasie.
“Dit skep werksgeleenhede, bied vaardigheidsopleiding aan die jeug, en begin die Light Legacy-projekte wat langtermynvoordele soos sonkrag-straatligte vir die township agterlaat. Ek glo daaraan om kuns, musiek en storievertelling te gebruik as ’n instrument vir sosiale verandering en samewerking, waar toeriste en plaaslike inwoners kan saamkom om die Vrystaatse naghemel te verlig.”
Kry die volledige program op die fees se webwerf.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

