On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Entertainment

‘Gehaltemusiek vir ’n Koning’ op Vredefort

───   SUSAN MARÉ 10:59 Fri, 13 Nov 2026

‘Gehaltemusiek vir ’n Koning’ op Vredefort | News Article
Die NG kerk Vredefort het uitstekende akoestiek en ’n uitsonderlike pyporrel. Foto: Debbie Delport Oosthuizen

Klassieke Kerskonserte is vir dekades al ’n jaarlikse hoogtepunt op die Kerskalender van ’n Noord-Vrystaatse dorp.

Vanjaar gaan dit nie anders wees nie. Die NG kerk Vredefort, ook as die Klipkerk bekend, behoort op 21 en 22 November weer stampvol te wees met die konsert.

In haar 40ste jaar as orrelis van dié gemeente is Erna Rademan opgewonde om deel te wees van die konsert saam met mede-dirigent Marli Krüger en die Deo Gloria-koor. Die program sluit bekende klassieke en kontemporêre Kersliedere in met prof. Theo van Wyk (orrel) en Marguerite van Wyk (liriese sopraan) as besoekende kunstenaars.

Van Wyk is ’n bekende Suid-Afrikaanse konsertorrelis, komponis en musiek-akademikus wat as medeprofessor in musiek aan die Universiteit van Pretoria verbonde is. Hy word wyd erken vir sy bydraes tot kerkmusiek, orrelonderrig en die bevordering van Suid-Afrikaanse orrelmusiek, ook op internasionale verhoë.


Marguerite van Wyk is ’n Suid-Afrikaanse liriese sopraan, veral bekend vir haar klassieke sangoptredes en konserte by die Noordwes-Universiteit se Skool vir Musiek en Konservatorium in Potchefstroom.

Die Klipkerk in Markstraat, waar besondere musiekkonserte aangebied word, se eerste hoeksteen is op 28 Julie 1882 gelê. Die nuwe kerk se hoeksteen is in April 1923 gelê en sy 100ste bestaansjaar is in 2023 gevier.

Dié historiese kerk het ’n reuse-orrel met meer as 2 000 pype en drie manuale. Die Fehrle-en-Roeleveldt-orrel is in 1973 ontwerp en in 1975 ingewy. Die kleinste pyp is 13 mm lank en die grootste langer as 4 meter. In ’n stadium was dit die grootste pyporrel in die Suidelike Halfrond.

‘Die grootste vreugde van my lewe is om vir die Here musiek te maak’

Die Deo Gloria-koor en plaaslike of genooide kunstenaars en instrumentaliste tree gereeld in die kerk op by jaarlikse Kerssangdienste. Gereelde barok- en kamermusiekuitvoerings is ook deel van Erna en Marli se passie om klassieke, en veral kerkmusiek, te bevorder.

Die Deo Gloria-koor wat in 2028 sy 30ste bestaansjaar vier, is ’n gevestigde gemeenskapskoor wat sedert 1998 onder leiding van Rademan en Krüger optree. Die koor bestaan uit sowat 45 lede vanoor die Noord-Vrystaat en Noordwes heen. Dié multi-generasiekoor met ouderdomme wat wissel van ongeveer 17 tot 75 is ’n heeltydse koor wat ook ligte musiek instudeer vir konserte.

Rademan is ’n veelsydige musikant, bespeel verskeie instrumente en is ná haar aftrede uit die onderwys steeds bedrywig. Sy onderrig leerlinge op Parys in verskeie instrumente waaronder die klavier, viool en tjello. “Die grootste vreugde van my lewe is om vir die Here musiek te maak. Ons is ’n span duisend wat groot gaan met ons Kerskonserte op  Vredefort – dis massiewe konserte, hoor!

Marli Krüger (links) van Parys en Erna Rademan van Vrede vorm ’n sterk musiekvenootskap. Foto verskaf

“Ons weier om meer as 700 kaartjies te verkoop. Sewehonderd, ja. Hoor mooi, ek praat nie nonsens nie, dit is hoeveel kaartjies ons vir twee uitvoerings elk verkoop. As daar meer mense kom, is dit te warm in die kerk. Die mense sit die kerk reeds stampvol.”

Mede-dirigent Krüger, ’n onderwyser aan die Hoërskool Parys en dirigent van ’n skool-  en volwassekoor, was vir jare ’n orrelis op dié dorp. “Ek en Erna het Deo Gloria saam begin en is soos vinkel en koljander. Ons beplan bykans ’n hele jaar lank aan elke Kersuitvoering se program. Die Deo Gloria-koor het letterlik van Februarie tot Augustus al die musiek instudeer.

“ ’n Gehalte-uitvoering is altyd vir ons baie belangrik en ek verstout my om te sê van die kunstenaars wat daaraan deelneem, is van internasionale gehalte. Ek en Erna mik daarna om weer ’n uitvoering van internasionale gehalte op die planke te sit.

Kersuitvoerings in die Klipkerk op Vredefort beteken baie vir die Noord-Vrystaatse musiekgemeenskap omdat soveel plaaslike mense van omliggende dorpe daarby betrokke is. Foto verskaf

“Ons verwag besoekers uit alle dele van Suid-Afrika. Die uitvoerings is natuurlik ook ’n finansiële uitdaging – ons het byvoorbeeld 14 instrumentaliste gekontrakteer om deel te neem. Die musiekprogram is veelsydig en bied iets vir almal.”

Konsertgangers kan klassieke musiek verwag soos “Laudate Dominum” van Mozart en die “Gloria” uit die Mis van Schubert. Daar is ook Europese Kersmusiek (veral uit Frankryk), ’n medley van gewilde Kersliedere, kontemporêre Kersmusiek en Finse musiek.

Die kersie op die koek sal die laaste koorwerk wees, sê Krüger. Ongelukkig kan die besonderhede nie gepubliseer word nie weens kopieregvoorwaardes. “Die ‘Geboorte van ’n Koning’ gaan egter die eerste keer in Suid-Afrika gesing word. Ons is opgewonde!”

Krüger sê dit is vir haar en Rademan is dit belangrik om goeie musiek na die platteland te bring. Die samewerking met koorlede van ander dorpe en veral van Parys sowat 15 km van Vredefort is prysenswaardig.

“Ons bied gehaltemusiek vir ’n Koning – dis ’n hartsaak vir my en Erna. Ons is trots en tevrede om by ’n opvoedingstaak en -geleentheid betrokke te wees waar ons mense van die platteland aan gehalte koor- en instrumentale musiek kan blootstel.”

Die Kersuitvoering op Saterdag 21 November is om 18:30 en ’n tweede uitvoering vind Sondag 22 November om 12:00 plaas. Die konsert is sowat een uur en vyftien minute lank. Konsertgangers kan drie keer saam sing as ’n magtige lofkoor in massasang wat elke ruimte van die Klipkerk met sy wonderlike akoestiek gaan vul.

Mense wat kaartjies wil bekom, kan Wynand Serfontein (skakelpersoon) bel by 083 452 5526.

OFM Nuus/Susan Maré cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.