On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Health

Ketogeniese dieet: Meer as net ’n gewilde voedingsneiging

───   08:00 Wed, 04 Nov 2026

Ketogeniese dieet: Meer as net ’n gewilde voedingsneiging | News Article

Die ketogeniese dieet het die afgelope paar jaar baie aandag gekry, maar daar is meer aan hierdie hoëvet-, laekoolhidraatbenadering as net ’n gewilde dieetneiging.

Op Wellness Wednesday gesels Will van der Merwe, dieetkundige, met Pulane Nel-Sekepe oor die ketogeniese dieet, wat dit behels, asook die moontlike voor- en nadele daarvan.

Die dieet beperk koolhidraatinname en verhoog die inname van vet, sodat die liggaam ketone begin gebruik as ’n belangrike energiebron. Dit kan vir sommige mense ’n doeltreffende voedingsbenadering wees, maar dit is nie noodwendig geskik vir almal nie en verg deeglike beplanning om seker te maak die liggaam ontvang steeds al die nodige voedingstowwe.

Een van die belangrikste toepassings van die ketogeniese dieet is egter in die behandeling van sekere vorme van epilepsie by kinders. Navorsing toon meer as die helfte van kinders wat ’n terapeutiese ketogeniese dieet volg, kan ’n vermindering van minstens 50% in toevalle ervaar, terwyl ’n kleiner groep selfs aanvalsvry kan word. 

Dit beteken egter nie ’n kind moet bloot op ’n gewone “keto-dieet” geplaas word nie. Wanneer dit as ’n behandeling vir epilepsie gebruik word, behoort dit onder die toesig van ’n mediese span en ’n dieetkundige te gebeur, met gereelde monitering van groei, voedingstatus en moontlike newe-effekte. 

Soos met enige streng voedingsbenadering, is daar ook uitdagings. Hardlywigheid, gastro-intestinale ongemak en moegheid kan voorkom, terwyl langtermyngebruik onder meer aandag aan groei, been- en niergesondheid en voldoende vitamiene en minerale vereis. 

Will en Pulane kyk daarom na die ketogeniese dieet vanuit ’n gebalanseerde perspektief – waar dit moontlik ’n waardevolle terapeutiese hulpmiddel kan wees, maar ook waarom professionele leiding en individuele behoeftes belangrik is. sm

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.