Inspiration
Feel Good Friday – Vrou vind haar pleegma ná 40 jaar─── 15:23 Fri, 12 Jan 2024

Essie Gilchrist, wat nou in haar 70's is, het byna 30 jaar lank kinders van alle ouderdomme grootgemaak.
Essie Gilchrist van Stockton in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië was bekend as Mama Essie vir die baie kinders wat in haar pleegsorg geplaas is. Sy was baie geskok toe sy hoor dat Hannah Smith na haar soek. Gilchrist het haar meer as 40 jaar gelede laas gesien en onthou haar baie goed. Sy het destyds haar middelnaam, Marie, gebruik.
“Marie het die pragtigste rooi hare gehad,”het Gilchrist aan Today.com gesê. “Ek het nooit opgehou om aan haar te dink nie.?” Smith het op 13 Desember 2023 ’n huldeblyk aan Gilchrist op sosiale media geplaas in die hoop dat iemand dalk inligting oor haar het.
“Ek was 12 jaar oud toe my ma nie meer vir my kon sorg nie. Ek is van haar weggeneem en in ’n kinderskuiling geplaas. Ná ’n lang tyd kon hulle eers iemand kry wat ’n baie ontstelde en wilde kind soos ek wou versorg,” het Smith op die sosialemediaplatform X gesê.
“Ek was nie gaaf met haar nie. Ek het by haar gesteel en haar telefoonrekening was baie hoog omdat ek my kêrel baie gebel het. Ek het weggeloop en is weer in die skuiling geplaas en haar nooit weer gesien nie. Ek is seker ek het haar hart gebreek.”
Lees ook: Artist from Klerksdorp wins grand prize in national art competition
Sy sê alles wat sy geleer het, het sy by Mama Essie geleer. Smith, ’n traumaberader van Washington, sê sy soek al jare na Gilchrist min wetend dat sy weer getrou en haar van verander het.
Essie Gilchrist van Stockton, Kalifornië, is ook bekend as Mama Essie. Foto: Today.com
Smith onthou hoe hulle gedans het in haar spierwit woonkamer en hoe almal saam geëet het. Sy het deel van ’n familie gevoel. Gilchrist, wat nou in haar 70's is, het byna 30 jaar lank kinders van alle ouderdomme grootgemaak.
Lees ook: Lyk of daar iets in die water in die VSA is!
“Ek het deur die jare van soveel van die kinders gehoor," sê Gilchrist. “Wat ek probeer doen het, is om hulle selfvertroue te gee”.
Smith en Gilchrist het op 14 Desember meer as 45 minute telefonies met mekaar gepraat.