On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Inspiration

Reddersburg-kinderhuis: Genoeg liefde, omgee vir vyf dosyn kinders

───   MORNÉ VAN ROOYEN 19:35 Thu, 19 Sep 2024

Reddersburg-kinderhuis: Genoeg liefde, omgee vir vyf dosyn kinders | News Article
Kinders uit moeilike omstandighede kry ’n kans om gelukkig te wees in Reddersburg se kinderhuis. Foto ter illustrasie: Pixabay

“Ons doen ons bes om bietjie vir elkeen sy kwaliteittydjie te gee, dat in elke kind se behoefte daaraan voorsien word.”

Die kinderhuis op Reddersburg in die Suid-Vrystaat se droom vir sy jong inwoners klink eenvoudig: dat hulle nou gelukkig sal wees en eendag suksesvol.

Maar met ’n reuse-begroting waarvan die staat net die helfte voorsien en steeds stygende uitgawes, veral elektrisiteit, verg dit fyn beplanning en deurlopende bemarking vir die President Kruger-kinderhuis om in die 62 kinders se behoeftes te voorsien, en soms ook af te knyp vir ietsie ekstra.

OFM Nuus het saam met ds. Dirk Meijer, predikant van die Gereformeerde Kerk Bloemburg en voorsitter van die bestuurskomitee, Reddersburg toe gegaan om by Danie en Jolandé Noëth, die hoof en sy vrou, te hoor hoe hulle maak om die vyf dosyn seuns en dogters ankers én vleuels te gee.

Van links: Jolandé en Danie Noëth by ds. Dirk Meijer van die Gereformeerde Kerk Bloemburg. Foto: Morné van Rooyen

Naas die 50% wat die staat voorsien, kry die kinderhuis 15% van sy begroting van die Gereformeerde Kerke. Al het dié kerkverband die instelling in 1961 begin vir sy eie kinders, kom nie een van die inwoners nou uit ’n Gereformeerde huis nie.

Tog ontferm gemeentes van Vredenburg tot Kathu hulle steeds oor die kinderhuis en skenk gereeld enigiets van slaap- en skoolklere vir elkeen tot wildvleis en geskenkies. “Omtrent al ons bederwe kom ook uit die Gereformeerde gemeentes,” vertel Danie.

“Dan kry ons die res van individue wat ons maar net goedgesind is. En dis maar waaroor ons bemarking baiekeer gaan.”

Die kinderhuis is ’n baken van hoop in die lewe van kinders uit moeilike huislike omstandighede. Foto: Morné van Rooyen

Net ’n fraksie van die kinders is wees. “Almal hier by ons is hier onder ’n hofbevel,” verduidelik Danie. “Baiekeer doen (maatskaplike dienste) aansoek dat ’n kind verwyder word en by ’n kinderhuis of by ’n jeugsorgsentrum moet ingaan. Dan kom lê die aansoeke hier op ons tafel, en ons is beperk wat plek betref.”

Danie sê hulle vereistes vir opname is bloot: “Hy moet Afrikaanssprekend wees, en dan mag hy ook nie meer as twee jaar bo sy ouderdom in die skool wees nie.”

Die maatstawwe vir plasing in ’n kinderhuis het met die jare verander. “Die regering van vandag beskou armoede nie meer noodwendig as ’n rede om kinders te verwyder nie. Vroeër moes elke huis – ek praat nou van baie jare terug – elke kind moes ’n bedjie gehad het. In vandag se tyd werk dit nie meer so nie.”

Die kinderhuis het voldoende speelplek vir sy 62 inwoners. Foto: Morné van Rooyen

Die meeste van die plasings by hulle is weens moeilike omstandighede. Alles van “maatskaplike probleme van molestering tot kinders se gedrag: as dit baie erg is by skole en die ouers kan nie na hulle kyk nie”.

Soms woon ’n kind by ’n ouma of oupa. Wanneer dié te oud word om die kind te versorg, reël ’n maatskaplike werker vir verwydering, doen aansoek om ’n hofbevel en reël vir plasing in ’n kinderhuis.

Wanneer so ’n kind in die President Kruger-kinderhuis geplaas word, begin die personeel werk aan ’n droom vir hom of haar. Vir Meijer is dit “dat die kinders hier werklik ’n huis mag leer ken, al is dit ’n buitengewone huis, maar ’n huis waarin daar ouers is wat hulle liefhet, wat hulle dra en na aan hulle is.

Baie terapeutiese hulp

“Dat hulle binne daardie verhoudings ook die sorg en die liefde van die Here sal leer ken en dat Hy so met ons is. En dat hulle so in die lewe kan ingaan, toegerus om te weet wie hulle is voor die Here om te gaan doen wat hulle moet doen.”

In ’n “buitengewone huis” is kinders se behoeftes noodwendig anders. “Ons doen baie terapeutiese hulp,” vertel Jolandé. “Ons kinders het ook baie skolastiese hulp nodig. Maar in terme van lewensmiddele is dit maar presies dieselfde as wat jy in jou huisgesin het.

“Elke kind moet ’n tandeborsel hê. Daar moet tandepasta wees. Ons moet ’n sjampoetjie hê. Daar moet skoene en kouse aan hulle voete wees. Ons moet sorg dat hulle in die winter ’n jassie aan het en lekker warm is … So, daar is geen verskil nie.”

Die kinderhuis het sy eie terapiekamers sodat die kinders nie pal Bloemfontein toe hoef te gaan nie. Foto: Morné van Rooyen

Omdat hulle uit moeilike omstandighede kom, het baie van die kinders nie die nodige voedingswaardes in hul vormingsjare gekry nie. “So dan tree ons daar intensief in. Ons help met bietjie byvoedings en vitamienes, wat ook al vereis word,” vertel Jolandé, wat haarself beskryf as ’n “Jack of all trades en master of none”, iemand wat “sorg dat hulle alles het wat hulle nodig het”.  

“Partykeer was die kinders nog nie eens by ’n oogarts gewees nie. En dan kom ons agter daarso is ’n groot agterstand omdat hulle nie op die bord kan sien nie. Ons vat hulle soontoe.”

Van die klein kinders kom by hulle aan met erge tandbederf. “Dan vat ons hulle na ’n tandarts, wat ons baie goedgesind is. En ons kyk ook na hulle mondhigiëne. Ek sê altyd vir hulle: Jy moet oud word met jou tande. So pas hulle mooi op.”

Die Gereformeerde Kerk Reddersburg is die kinders se geestelik tuiste waarin die meeste belydenis van geloof sal aflê voor hulle die wêreld aandurf. Foto: Morné van Rooyen

Omdat Reddersburg 60 km suid van Bloemfontein met al sy geriewe geleë is, bestee die kinderhuis ’n fortuin aan brandstof. “Ek moet sê, baie van die terapeute en van die hospitale kom ons tegemoet. Dan probeer hulle alles op een dag doen, maar mens kan ook net tien kinders op ’n slag vervoer. Dis vir hulle ’n uitdaging,” verduidelik Jolandé.

Gelukkig kom van die terapeute een maal per week na hulle toe.  “Hulle haal die kinders net ’n uur uit die skool uit, want elke keer wat ons met hulle stad toe gaan, mis hulle ’n hele dag se skool. Ons kan ook nie altyd die datums kies nie omdat ons by die staatshospitale is.

“So dit val in eksamentye. Dit val in toetsreekse. Ek probeer dit skuif daar rondom, maar dis nie altyd moontlik nie. Met die terapeute wat hier na ons toe kom, help dit dat ons kinders net ’n uurtjie van hulle skool misloop.”

Die kinders kry beurte om tafel te dek en skottelgoed te was. Foto: Morné van Rooyen

Gevra of dié roeping om pa en ma vir vyf dosyn kinders te wees nie hul hele lewe oorneem nie, erken Danie: “Ja, dit is nogal ’n probleem. Ek dink meer vir my vrou as vir my.

“Ek kan maklik om ’n vuur sit en afskakel by my huis, maar sy’s soos ’n goeie hennetjie. Sy gaan slaap nie voor al 62 kinders slaap nie en sy staan voor hulle almal op en maak seker alles is reg en doen al die medies.”

Daarom moet hulle streng wees met hul personeellede: “Die oomblik as jy met verlof gaan, al is jy inwonend, moet jy van die terrein af. Gaan kuier by jou tannie; gaan kuier by jou oom, selfs jou twee dae af, want ons versorgers werk vier dae en dan het hulle twee dae af.

Tyd vir elkeen ’n uitdaging

“Maar ja, die groot voordeel vir ons is, ons het ook baie lekker ontspanning.” Hulle span dikwels uit om die swembad. “Ons geriewe is goed ingerig. So ’n ou moet dit ook maar gebruik as deel van jou afskakel, nè.”

“Ons kinders word in ’n huis, in hierdie groot huis groot,” vertel Jolandé oor die kinderhuis se uitdagings, “en as jy in ’n huisgesin is, dan maak jy tyd vir jou drie of vier kinders. Hier is hulle sestien in ’n afdeling. En hulle is klein.

“So, ek dink dit is nogal rêrig ’n uitdaging en ons doen ons bes om bietjie vir elkeen sy kwaliteittydjie te gee, dat in elke kind se behoefte daaraan voorsien word.”

Die kinderhuis het gimnasiumtoerusting present gekry vir sy eie gim. Foto: Morné van Rooyen

Elkeen van die vier afdelings, ingedeel volgens geslag en ouderdom, het ’n “afdelingsmoeder”. “Die tannies wat die kinders versorg, stap ’n ver pad met hulle. Ons weet al naderhand waarvan elke kind hou, waarvan hulle nie hou nie.

“En as ons deur die skenkings gaan, dan weet jy klaar wie s’n dit is: vir hierdie outjie beteken net om ’n prentjie te teken verskriklik baie. Vir hierdie ene is om ’n koekie te versier ‘my liefdestaal’. So, dit maak dit moeilik vir die tannies, maar hulle doen hulle bes daarmee. En ek moet sê hulle vervul hul rol daarmee.”

Nie net elke kind individueel nie, maar ook die kinderhuis in die geheel het behoeftes en drome. Danie vertel hulle is reeds tot 80% van die kragnetwerk af. “Maar dan kry ek vandag weer ’n rekening, en ek besef ek het nou twee weke bemarking gedoen net om ’n Eskom-rekening te betaal. En dit breek ’n ou se moed.

Nou gelukkig, eendag suksesvol

“Ek dink dit is ook op die oomblik ’n gevaarteken vir die toekoms. As ons nie dringend iets daaromtrent gaan doen nie, gaan ons toemaak, want dit raak so erg dat ons elke jaar nou ver (oor) ons begroting daarmee gaan.”

Wat die inwonertjies betref, het die kinderhuis ’n korttermyndroom:  “Ons wil die kinders vandag gelukkig hê,” vertel hy, én ’n langtermyndroom: “Ons wil ook hê hulle moet eendag suksesvol wees.”

Daarom werk hulle nou saam met die Gereformeerde Kerke se deputate vir diakonale sake om ’n huis in Bloemfontein aan te koop. “Ons huur op die oomblik vir ons studente en naskoolse ouens, sodat hulle goedkoper verblyf kan hê, maar dit werk ons nog baie (duur) uit.

Aan ontspanningsplek het die kinderhuis se personeel en inwoners geen tekort nie. Foto: Morné van Rooyen

“So ons sal graag daar ’n plek wil inrig vir sê nou maar ses of agt kinders van die afgelope twee jaar tot hulle óf ’n beter salaris kry óf hulle klaar is met hulle studies en dan hulle vlerke kan sprei van daar af.

“En dan natuurlik ook iemand wat na hulle kyk, want baiekeer daai eerste jaar van studentwees of tweede jaar, dan val alles uitmekaar uit wat jy opgebou het.”

’n Belangrike deel van dié opbou van jong lewens is hul geestelike behoeftes. Hoe verskil dit van kinders uit ’n kerngesin s’n?

Verhoudings wat seerkry

In ’n standvastige, Christelike huis word die Bybel gehoor en leer kinder deur hulle ouers “iets ken van wie die Here is, die Here wat Homself vir ons kom bekendmaak in die Bybel as ons Vader en dat ons Hom in daai verhouding moet leer ken”, verduidelik Meijer.

In ’n huis waarin “die wiele afval”, word die Bybel nie gehoor nie. “Die verhouding tussen pa en ma kry seer … die verhouding tussen die ouers en die kinders kry seer, en daar is geen beeld van ’n standvastige Christelike huis, hoe dit behoort te wees, nie.”

Dit maak dit moeilik om seker konsepte te verduidelik. “Ek dink byvoorbeeld die konsep van ’n vader, van die Here wat ons Vader is. As jy dit nie in jou huis leer ken het in ’n liefdevolle verhouding tussen jou en jou vader nie, dan is dit ’n skeefgetrekte begrip van die Here,” meen Meijer.

Ds. Dirk Meijer kom gereeld oor van Bloemfontein af vir Bybelstudie met die inwoners, maar ds. Hans Grobler van die Gereformeerde Kerk Reddersburg is hul predikant wat vir katkisasie sorg. Foto: Morné van Rooyen

“Ek dink iets eenvoudigs soos die begrip van gehoorsaamheid (moet) in baie liefde in ’n huis geleer word, en as daai begrip van gehoorsaamheid nie in die huis kom nie, gaan mens ook sukkel met die hele verstaan van gehoorsaamheid in die Bybel of die Here se wil in die Bybel.”

Algemene Bybelkennis lei ook skade, voeg Danie by. ’n Kind is veronderstel om die Bybelverhale op drie by sy ma te hoor, “maar hulle kom hier aan en weet nie of Simson of ‘Solomon’ of wie ook al in die Nuwe Testament, Ou Testament of in die leeukuil was nie”. Dié kennis moet eers ingeskerp word, “dan kan ’n ou van daar af die diepere goeters” oordra.

“So ons leer maar baie Matteus 22 in die begin. Dis ons kern wat ons hier by die kinderhuis toepas: Jy moet die Here liefhê met alles wat jy het en jou naaste soos jouself. Dis ons beginpunt.”

OFM Nuus/Morné van Rooyen

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.